Drie weier om oor boedel te praat
2012-02-25 00:00
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Die Burger op
KAAPSTAD. – Die begunstigdes van die kruieman se boedel van minstens R110miljoen swyg soos die graf.
Die Burger is gister deur al drie dié mense wat in mnr. Matthys (Kellie) Kellerman Hoffman se testament genoem word, na hul prokureurs verwys.
Die prokureurs wou egter geen kommentaar lewer nie, hangende regstappe in die Wes-Kaapse hooggeregshof.
Hoffman se sewe onterfde kinders betwis die geldigheid van ’n testament waarin me. Pamela (Pam) Patricia Cairncross, ’n werknemer van hom, die hoofbegunstigde is.
Sy het gister geweier om uit die plaashuis op Doornkop in Brackenfell te kom om met Die Burger te praat.
’n Huurder wat al jare op die plaas woon, het slegs Cairncross se prokureur se besigheidskaar-tjie deur die traliehek voor die stoep aan Die Burger oorhandig.
Dié prokureur, mnr. Chris Faure, het gesê hulle sal geen kommentaar lewer nie, hangende die hofsaak. Faure verteenwoordig ook mnr. Stefanus Gideon Malherbe, nog ’n begunstigde in die testament.
Ook die prokureur van mnr. Martin Hoffmann, die derde begunstigde en ’n broerskind van Hoffman, het gesê hulle gaan nie kommentaar lewer nie.
Intussen kring die intriges rondom die miljoenêrsboedel uit en het dit aan die lig gekom dat daar twee testamente by die meester van die hof ingedien is.
In die eerste testament wat in Junie 2009 opgestel is, erf Cairncross – wat baie jare in diens van Hoffman was en na hom omgesien het – 90% van die boedel en Malherbe, sy prokureur en jare lange vertroueling, die orige 10%.
’n Paar dae later is ’n tweede testament, wat in hofstukke as die Oktober-testament bekend staan, ingedien.
Hierin word Hoffman se broerskind, mnr. Martin Johannes Hofmann, ook as ’n erfgenaam benoem en 20% van die boedel aan hom bemaak.
Luidens ’n beëdigde verklaring van Hoffman se dogter, me. Ria Laynes, is die twee testamente identies, behalwe vir paragraaf 7 wat “twee belangrike foute bevat”.
Dit dui daarop dat die persentasie van die trustgeld wat in die testament aan Cairncross en Hoffmann bemaak word, nie ooreenstem met die geskrewe persen- tasie wat daarnaas in die testament aangedui word nie.
Dit lees: “7.1) 70% (negentig persent) aan Pamela...”; en “7.2) 20% (negentig persent) aan my neef Martin...”
Laynes sê in haar verklaring: “Dit is haas ondenkbaar dat my pa die voormelde fout nie sou opmerk nie.”
Sy sê voorts: “Die indruk dat die Oktober-testament oorhaastig deur iemand opgestel is nadat ek vir Martin gevra het hoe dit dan is dat hy nie in die testament genoem word nie, is onvermydelik.”
Daarin staan ook dat die kinders dit vreemd vind dat hul pa se prokureur die eksekuteur van die boedel is en ook ’n begunstigde in die testament is.
Laynes het gesê sy weet tot vandag toe nie wie haar pa die laaste keer lewend gesien het nie. ’n Inwoner op die plaas, mnr. Sampie Swanepoel, het hom glo in ’n stoel agter sy lessenaar dood aangetref.
- Die Burger