Dit gons oor DA se kaalplakkaat
2012-01-24 03:51
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Die Burger op
JOHANNESBURG. – ’n Politieke advertensie of een vir kondome?
Dít is wat gebruikers van sosiale netwerke gister gewonder het nadat ’n werwingsplakkaat van die DA se studenteorganisasie (Daso) waarop ’n wit man en swart vrou met kaal bolywe mekaar omhels, op Facebook geplaas is.
By die foto staan: “In ONS toekoms sal jy nie twee keer kyk nie.”
Volgens mnr. Makashule Gana, DA-jeugleier, sou die plakkate van gister op elke kampus in die land opgesit word. Strooibiljette met dieselfde foto en boodskap sou ook uitgedeel word.
Binne ’n uur nadat dit op die DA-jeug se Facebook-blad bekend gestel is, was daar meer as 150 opmerkings. Dit het ook talle twiets ontlok.
“Dit lyk soos ’n advertensie vir teasers (sic),” het Lisa Olding op Facebook geskryf.
Guy Lewis reken dit is gegrond op die aanname dat mense rassisties is.
Baie het ook gal gebraak oor die skynbaar seksuele aard van die plakkaat. “Hoekom kon hulle nie net klere aangehad het en hande vasgehou het nie?” wou Hayley Short weet.
Meer as een het gedink dit lyk soos ’n advertensie vir kondome.
Nigel Cameron-Davies dink dit adverteer seksuele losbandigheid en is nie ’n boodskap wat aan kinders op universiteit uitgebasuin behoort te word nie.
Gana, wat saam met ’n span aan die plakkaat gewerk het en die finale goedkeuring daarvoor gegee het, het gesê hy sal die plakkaat verdedig met alles wat hy het. “Niemand sal vir my sê om dit af te haal nie.”
Volgens hom maak mense ’n onnodige bohaai oor die twee halfkaal mense op die plakkaat.
“’n Mens kan nie hul private dele sien nie en dit verskil glad nie van onderklere-advertensies wat ’n man of ’n vrou alleen uitbeeld nie. Dis net omdat daar ’n man en vrou saam is dat hulle nou iets te sê het.”
Volgens Gana is die doel van die plakkaat om mense te laat dink hoe die toekoms kan lyk waar ras nie ’n kwessie is nie.
Me. Helen Zille, DA-leier, het by navraag laat weet sy gaan haar nie nou oor die kwessie uitlaat nie, berig Jan-Jan Joubert.
Mnr. Wouter Wessels, nasionale jeugleier van die VF+, reken weer die klem op ras is “totaal en al goedkoop politiek”.
“Dit help nie ’n samelewing aan om minder rassisties te wees nie, maar wakker juis rassisme aan.”
Mnr. Floyd Shivambu, geskorste woordvoerder van die ANC-jeugliga, wou hom glad nie oor die kwessie uitspreek nie.
“Ons verwerdig ons nie om kommentaar te lewer op enigiets wat die DA doen nie. Ons het geen kommentaar nie en moet nooit weer die jeugliga se kommentaar oor DA-kwessies vra nie.
“Ons het beter en groter dinge om op te fokus,” het Shivambu per SMSgesê.
- Die Burger