Direkteur se selfmoord laat drama oor Wellington se King Groep verder verdiep
2009-08-15 01:27
Kaapstad - Die drama rondom die beleggingsfiasko van honderde miljoene rande van die King Groep, ’n Wellingtonse familie-onderneming, het verdiep met die selfmoord vandeesweek van dr. Paul Reginald King, een van die direkteure.
King (49) was die middelste van drie bekende Bolandse broers wat betrokke is by verskeie maatskappye en trusts wat verweef is met die King Groep en deur die broers besit of bestuur word.
Die ander twee broers is mnre. Adrian en Stephen King.
Dit blyk dat Paul King hom Maandagnag vergas het.
Hy is gisteroggend in ’n private diens in Durbanville veras, waarna ’n roudiens gehou is op dieselfde plaas waar sy lyk gekry is.
Sowat 300 mense het die diens op die plaas Kilcairn in die distrik Hermon bygewoon.
Die Paarl Post het Donderdag berig King het Maandagnag selfmoord gepleeg.
Sy lyk is Dinsdagoggend in ’n voertuig op ’n verlate plaaspad gekry.
King het ook sowat twee weke gelede probeer selfmoord pleeg.
Luidens ’n verslag van die Raad op Finansiële Dienste (RFD) wat op 9 Julie voltooi is oor ’n ondersoek van die King-filiale, is die groep tegnies en kommersieel insolvent en kan hy nie sy krediteure betaal nie.
Die King Groep se laste beloop tans R650 miljoen nadat hy vroeër R640 miljoen van beleggers ontvang het.
Vroeër is berig dat duisende beleggers nou met hul hande in die hare sit oor hul beleggings, wat meestal in eenhede van R100 000 gedoen is.
Beleggers het byvoorbeeld verbande op hul huise geneem om in King Holdings, ’n filiaal van die King Groep, te belê.
Op 3 Julie vanjaar is ’n brief namens die King Groep aan beleggers en skuldeisers gestuur waarin aangedui is dat die groep se laste R650 miljoen beloop, lui die RFD-verslag.
Die King Groep het reeds teen Februarie verlede jaar kontantvloeiprobleme begin ontwikkel en kon nie meer die beleggers in een van die filiale, King Property, betaal nie.
Daar word deur die RFD aangevoer dat eiendom wat weens die ekonomiese klimaat waarde verloor het, luidens die eiendomsportefeulje van die King Groep met tot 56% in waarde toegeneem het.
Nadat die finansiële skoen in 2008 begin druk het, is beleggers in die onderskeie filiale van King Groep teen Julie verlede jaar genooi om hul beleggings en leningsrekeninge in aandele in King Holdings om te skakel.
Die RFD het egter bevind daar is meer aandele hierin uitgereik as wat die King Groep aanvanklik aan beleggers aangedui het.
Boonop het mnr. Adrian King op 13 Mei vanjaar op ’n vergadering genoem dat die King Groep nie die salarisse van sowat 40 werknemers kan betaal nie.
- Die Burger