Dié kwessies in kollig
2012-02-09 00:00
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Die Burger op
KAAPSTAD. – Pres. Jacob Zuma se staatsrede kan vandag in ’n groot mate op die ekonomie fokus, met die klem op werkskepping in spesifiek die kennis- en groen ekonomie, asook belegging in infrastruktuur en handelsgroei met Afrika eerder as Europa.
Daar is baie druk op Zuma om volhoubare werkskepping en ekonomiese groei die fokus van die staatsrede te maak, en die verwagting is dat hy dit sal doen binne die konteks van die wêreldwye resessie die onlangse onderhandelings in Davos en die pas afgelope vergaderings van die ANC-leierskorps en die kabinet.
Daar is ’n baie sterk konsensus dat die president kan kies om staatsgedrewe ekonomiese groei en werkskepping te takel deur die oprigting en opknapping van infrastruktuur as katalisator vir ekonomiese groei te gebruik.
Binne die kabinet is daar steun vir wetgewing om die ontwikkeling en opknapping van infrastruktuur deur spesiale wetgewing vry te stel van die rompslomp wat soveel ontwikkeling kniehalter – vergelykbaar met die spesiale stappe om die Wêreldbeker-sokkerstadions betyds en op peil voltooi te kry.
Zuma sal na verwagting aandui dat Suid-Afrika die wêreldresessie tot dusver betreklik goed hanteer. Aangesien Afrika tans die belowendste ekonomiese groeimoontlikheid is, sal Zuma Suid-Afrikaners aanmoedig om handelsbetrekkinge met Afrika eerder as Europa hul hooffokus te maak.
Enige dramatiese beleidsaankondiging sal ’n verrassing wees. Zuma sal na verwagting nie afwyk van sy gewoonte om detail-aankondigings aan sy ministers oor te laat nie.
Hy sal boonop in die versoeking wees om die ANC se eeufees te behandel met die volledigheid wat hy meen dit verdien.
Aankondigings ter verbetering van die onderwys-, gesondheid- en welsynstelsels word verwag, maar dit sal verfynings eerder as veranderings van beleid omvat.
Daar is ’n sterk aandrang op die president om sy posisie uit te spel met betrekking tot sleutelvrae soos nasionalisering, grondhervorming en die inperking van spraakvryheid.
Gegewe die verdeeldheid in die ANC daaroor word verwag dat Zuma katvoet sal loop eerder as om onmin te veroorsaak, wat die gevaar van nóg ’n vaal Zuma-staatsrede skep.
)Zuma moet uitstyg en van voor begin lei – bl.12.
)Los vae stellings, Zuma – bl.13.
- Die Burger