Die Kaapse ‘treine na nêrens’
2012-02-25 00:00
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Die Burger op
KAAPSTAD. – Treindienste landwyd het só verval dat ’n mens nie eers kan waarborg dat enige trein wat ’n stasie verlaat, by sy bestemming sal uitkom nie.
Maar desondanks is die Passasierspooragentskap van Suid-Afrika (Prasa) nie bereid om enige plan te ondersteun dat Metrorail aan die Kaapse stadsraad oorgedra word nie.
Dít was gister die boodskap van mnr. Lucky Montana, uitvoerende hoof van Prasa.
Hy was een van die deelnemers aan ’n beraad oor treindienste wat deur die Kaapse stadsraad aangebied is.
Montana het die verval van treindienste erken en gesê daar is geen waarborg dat ’n trein by ’n stasie sal aankom nie.
“Die rede waarom mense in lewensgevaarlike omstandighede in spitstye aan treine hang, is omdat daar geen sekerheid is dat daar ’n volgende trein sal wees om hulle tot by hul werkplekke te bring nie.
“Die ontwerp en tegnologie van die treindienste kom nog uit die jare vyftig. Die treinwaens wat Metrorail gebruik, is veertig jaar oud.”
Montana het bygevoeg: “Metrorail sal nié aan die Kaapse stadsraad oorgedra word nie ... Prasa sal dit nooit ondersteun nie. Dit is onwettig.”
Mnr. Robin Carlisle, Wes-Kaapse minister van vervoer, het hierop gesê die treindienste in Kaapstad kan nie bestuur word uit ’n kantoor wat 1 500 km daarvandaan is nie.
“Openbare vervoer kan nié werk as die treindienste misluk nie.” Daar moet een netwerk, een tydrooster en een kaartjiestelsel wees. En dit kan net werk as daar ’n “alliansie” is tussen plaaslike, provinsiale en nasionale regering, betrokke departemente en agentskappe.
“Daar is geen wet in die land wat ons verhoed om alliansies te vorm nie,” het Carlisle gesê.
Montana het later op die beraad gesê: “Die belangrikste uitdaging is nie die oordrag van die treindiens nie, maar die modernisering daarvan.”
Mnr. Brett Herron, burgemeesterskomiteelid vir vervoer, paaie en stormwater, het gesê die Kaapse stadsraad se doelwit is nie om Metrorail oor te vat nie, maar om dit deel van die stadsraad se geïntegreerde vervoerstelsel te maak.
Die stadsraad gaan voort met sy studie oor die wenslikheid dat hy die bedryf van Metrorail in die Skiereiland oorneem. Dit is nodig sodat ’n sakeplan opgestel kan word wat pendelaars op ’n geïntegreerde grondslag kan bedien.
- Die Burger