‘Derdehandse’ rook is glo óók skadelik
2010-02-10 05:24
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Die Burger op
Saamgestel deur Fanie van Rooyen
Johannesburg. – Rokers wat gefrustreerd is met nie-rokers wat aanhoudend kla oor tweedehandse rook gaan binnekort nóg verder buitentoe moet stap om in rus en vrede ’n dampie te slaan.
Wetenskaplikes het in ’n nuwe studie bevind ook sogenaamde “derdehandse rook” kan skadelik wees en selfs kanker veroorsaak.
Derdehandse rook is volgens ’n berig vandeesweek op die New Scientist-webtuiste (newscientist.com) klein rook- en roet-deeltjies van sigaretrook wat op binnenshuise oppervlakke soos matte, teëls, mure, gordyne en kaste aanpak.
Dié rook- en nikotien-aanpaksels, wat vir maande op ’n oppervlak kan bly, kan volgens ’n nuwe studie kankerwekkend raak as dit met chemikalieë in die lug reageer.
Mnr. Hugo Destaillats, ’n spesialis in binnenshuise besoedeling by die Lawrence Berkeley National Laboratory in Kalifornië in die VSA, het volgens New Scientist gesê derdehandse rook kan ernstige gesondheidsprobleme en kanker in veral kinders veroorsaak.
Destaillats se span het onder meer die binnekant van die kajuit van ’n vragmotorbestuurder ondersoek wat ’n halwe pakkie sigarette per dag rook, en ’n kankerwekkende middel bekend as NNK daarin gevind.
Die span wetenskaplikes het vermoed die NNK is gevorm deur nikotien van sigaretrook-aanpaksels in die vragmotor wat met salpeterigsuur in die lug gereageer het.
Discovery News het vandeesweek op sy webtuiste (dsc.discovery.com) gesê salpeterigsuur is ’n tipe lugbesoedeling wat deur gasverbrandende toestelle en motorenjins afgeskei word. Dit word algemeen in motors en huise aangetref.
Om hul teorie te toets het Destaillats nikotien en tabakrook op stukke papier laat aanpak en aan salpeterigsuur blootgestel. Dieselfde skadelike verbindings wat in die vragmotorkajuit gevind is, insluitend NNK, het gevorm.
“Nikotien kan vir weke of maande op binnenshuise oppervlakke bly en derdehandse rook kan dus potensieel oor ’n lang tydperk skadelik bly. Veral kinders en babas word in gevaar gestel omdat hulle baie tyd op die vloer deurbring en die skadelike middels wat deur derdehandse rook veroorsaak word, deur hul vel kan absorbeer,” het Destaillats gesê.
Dié skadelike verbindings kan volgens Discovery News ook moontlik as stof deur mense ingeasem word.
Destaillats het gesê dié bevindings is nog ’n rede vir rokers om nie binnenshuis te rook nie.
Dr. Stephen Hecht van die Masonic Cancer Center by die Universiteit van Minnesota dink egter Destaillats se span oorreageer. “Daar is nog geen direkte bewyse dat dié chemikalieë skadelik is nie en blootstelling op dié manier mag minimaal wees,” het Hecht gesê.
- Die Burger