DA fnuik afrokkeling van lede
2012-02-06 01:36
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Die Burger op
KAAPSTAD. – Beweerde pogings van die ANC om lede van die Theewaterskloofse munisipale raad by die DA af te rokkel, is Saterdagoggend dramaties by ’n Kaapse hotel gefnuik.
Mnr. Anton Bredell, provinsiale minister van plaaslike regering, ’n LP, drie burgemeesters, ’n speaker en ’n klomp DA-raadslede en ondersteuners, sommige in DA-T-hemde, het op die Colosseum-hotel naby die Canal Walk-winkelsentrum in Century City by Milnerton toegesak.
Dít nadat dit bekend geword het twee DA-wyksraadslede van Theewaterskloof (Caledon, Grabouw en omstreke) is onder vals name met hul gades by die hotel ingeboek.
Volgens Bredell het die twee aangevoer hulle het drie ANC-leiers ontmoet wat hulle glo poste aangebied het sou hulle by die ANC aansluit.
“Ons is hier om die mense ’n keuse te gee. Hulle het ’n keuse – of hulle klim saam met ons in die kar of ons kla hulle aan.”
Die DA beheer die raad met ’n klein meerderheid, en sou die raadslede instem, sal tussenverkiesings gehou moet word wat die ANC kans sal gee om die raad by die DA af te neem.
Die gebeure het ontvou met middernagtelike jaagtogte van Caledon en Malmesbury na die Colosseum-hotel tot DA-lede wat Saterdagoggend vroeg alle hoteluitgange beset het om die raadslede vas te trap.
Die eggenoot van een van die vroulike raadslede wat in die hotel was, het later uitgesluip om ’n selfoon in ’n BMW, wat buite geparkeer was, te gaan haal.
Die identiteit van die raadslid is vasgestel aan die BMW, maar haar eggenoot het bloot gesê “hulle het bietjie uitgekom vir die naweek”.
Bredell het daarna met ’n paar DA-lede die raadslede in hul hotelkamers gaan opklop.
“Hulle het gesê hulle is onder valse voorwendsels na die hotel gebring.”
Hy het gesê die DA-koukus in die raad sal die aangeleentheid vanaand bespreek.
“Ek gaan ’n regsmening oor die voorval inwin, want ek wil doodseker maak van die wettigheid hiervan. Dit is omkopery.”
Bredell het gesê dit is ’n ou taktiek van die ANC om DA-raadslede sedert die plaaslike verkiesing so af te rokkel.
Mnr. Songezo Mjongile, Wes-Kaapse ANC-sekretaris, het gister gesê die DA moet sy huis in orde kry.
Hy het nóg ontken nóg erken dat die ANC die raadslede genader het.
“Dit is deel van politiek. Dit is ’n vry land waar almal die reg het om vrylik by enige politieke party aan te sluit.
“Niemand is uit hul huise gaan gryp nie.
“Indien daar raadslede was wat so ver gekom het, het hulle vrywillig gekom en is geen misdaad gepleeg nie.
“Dit is nie ons skuld dat die DA nie sy raadslede, wat duidelik ongelukkig is, kan beheer nie.”
- Die Burger