DA, ANC haaks oor ‘omkoop’ van lede
2012-02-07 00:00
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Die Burger op
KAAPSTAD. – ’n DA-span is gister na die Theewaterskloof-munisipaliteit gestuur om beëdigde verklarings oor beweerde ANC-omkopery by twee DA-raadslede te gaan afneem.
Mnr. Theuns Botha, Wes-Kaapse DA-leier, het gesê die DA gaan weer klagte van omkopery en korrupsie teen die ANC in die provinsie indien.
“Ons wag op die verklarings sodat ons kan weet teen watter ANC-leiers dit aanhangig gemaak moet word.”
Dit kom nadat die DA die afgelope naweek by ’n Kaapse hotel die ANC se beweerde pogings om DA-raadslede af te rokkel, op dramatiese wyse gefnuik het.
Die raadslede beweer hulle is op ANC-koste in die Colosseum-hotel by Century City ingeboek om te praat oor moontlike posisies indien hulle by die ANC sou aansluit.
Botha het gesê hy gaan ook die provinsiale polisiekommissaris nader om aan te dring dat die klagte ondersoek word.
Die DA verwys na dié ANC-taktiek as Project Reclaim, maar die ANC ontken die bestaan van die projek. “Project Reclaim is ’n gekoördineerde poging van die ANC om die bewind in agt rade oor te neem deur DA-raadslede om te koop en sodoende tussenverkiesings af te dwing,” het Botha gesê.
Mnr. Marius Fransman, provinsiale ANC-leier, het teruggekap en gesê Botha gryp na strooihalms. “Daar is absoluut niks verkeerd wanneer enigeen die ANC nader om te praat nie. Wat wel oneties en onwettig is, is om mense te wil dwing om valse verklarings af te lê.”
Die DA het in November verlede jaar ook ’n dossier met beëdigde verklarings van raadslede wat so genader is, vir ondersoek aan die polisie oorhandig. Na wat verneem word, is dit nooit ondersoek nie.
- Die Burger