Cope se parlementêre personeel stel mosie in teen LP
2012-02-25 00:00
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Die Burger op
KAAPSTAD. – Cope se parlementêre personeel het ’n mosie van wantroue teen een van hul LP’s ingestel.
Dit is dieselfde LP wat volgens die geskorste me. Hilda Ndude, voormalige Cope-tesourier, glo ’n verhouding met mnr. Mosioua Lekota, Cope-leier, het.
Ndude het vandeesweek ’n brief aan Cope-lede gestuur waarin sy beweer Lekota het ’n kind by die LP verwek.
Ndude is geskors omdat sy Cope-geld in haar en haar seun se rekenings inbetaal het.
Altesaam 21 administratiewe personeellede van Cope in die parlement het vandeesweek ’n dokument met griewe, asook die mosie, by die party se leierskorps ingedien.
Daarin word onder meer gesê die LP verstaan nie arbeidswetgewing nie. Dit wys glo ook op sake wat Cope by die Kommissie vir Bemiddeling, Versoening en Arbitrasie verloor het.
Daar word ook aangevoer dat die LP nie ’n voorstander is van “enigiets wettig, grondwetlik of pragmaties korrek” nie.
Lekota het gister gesê hy weet niks van die mosie nie.
Een van die werknemers, wat anoniem wil bly, het aangevoer dat Lekota en die LP maak asof Cope hul klein koninkryk is en dat die LP glo beskerm word.
Die LP het gister by navraag gesê sy het die arbeidsgeskille geërf toe sy in April verlede jaar ook as die administrateur van personeelsake aangestel is. Sy het aangevoer dat die kwessie verband hou met Ndude se persoonlike assistent wat eerskomende Dinsdag voor ’n tugverhoor verskyn omdat sy by beweerde finansiële ongerymdhede betrek is. “Dit is alles pogings om die aandag hiervan af te lei.”
Volgens me. Juli Kilian, Cope-LP, het die leierskorps vandeesweek met die personeel vergader om onder meer vas te stel of almal die griewelys steun.
“Almal het dit gesteun. Ons gaan teen 5 Maart met die partye vergader om agter die kap van die byl te kom.”
- Die Burger