Brand-chaos in Boland
2010-02-09 05:36
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Die Burger op
Franschhoek
Franschhoek was teen gisteraand in ’n chaos gedompel deur ’n bergbrand, wat reeds Vrydag waarskynlik deur werkers van Werk-vir-Water veroorsaak is.
Die hange om Franschhoek was in ligte laaie en die verstikkende rook het asemnood by mens en dier veroorsaak.
’n Rookbank het oor die dorp gehang en dit was stikdonker.
Rooi vlamme van meer as twee verdiepings hoog het die naglug ingeskiet. Teen vroegaand is plaashuise in die omgewing van die Bordeaux-saagmeule reeds ontruim, maar geen lewens is bedreig of eiendom beskadig nie.
Vlamme het baie na aan die bekende wynlandgoed en restaurant La Petite Ferme gewoed.
Mnr. Johan Botha, ’n brandweerbeampte, het omstreeks 21:45 gesê dit brand om die geboue daar.
Van die werkers by La Petite Ferme het hul huise ontruim en elders slaapplek gaan soek.
Die hulp van sowat 160 brandbestryders van onder meer die Kaapse Wynland-distriksmunisipaliteit en CapeNature is gisteroggend ingeroep om die brand te blus. Digte rook het brandbestrydingshelikopters verhinder om met die poging te help.
Die Franschhoek-pas was gister heeldag gesluit.
Mnr. Patrick Shone, CapeNature se bewaringsbestuurder van die Jonkershoek-natuurreservaat, het gesê die brand het vermoedelik ontstaan terwyl lede van Werk-vir-Water wat in die Assegaaiboskloof agter die Bergrivierdam besig was om indringerplante uit te kap, vuur gemaak het om kos te kook.
Die brand het daarna in die rigting van Theewaterskloof versprei en oor die berg na Franschhoek beweeg. Sowat 4 900 ha fynbos in die Jonkershoek- en Hottentots-Holland-natuurreservaat in die omgewing van die Franschhoekpas is reeds deur die brand verswelg.
Mnr. Francois Conradie van die plaas Bordeaux het vroegaand sy kinders verwyder, maar het steeds geveg om sy plaaswerkers se huise te probeer red. Hy moes later aangesê word om te ontruim.
Mnr. Tasso Steyn van die Stellenbosse munisipaliteit se brandweer het gesê by die Bordeaux-saagmeule was hulle te laat om ’n groot kruiptrekker te red. ’n Wa wat vir die vervoer van houtpale gebruik word, het ook in die slag gebly. “Maar gelukkig kon ons die palette met die droë hout wegry en rondom die fabriek natspuit,” het hy gesê.
Perde van Steinmetz Arabians, ’n perdestoetery in die omgewing, moes uit die gebied verwyder word. Hulle is almal na die stalle van Bridge House, ’n private skool net buite Franschhoek, gebring.
Dit is die tweede keer binne ’n maand dat ondersoek ingestel word na die moontlikheid dat provinsiale werknemers ’n veldbrand veroorsaak het. Verlede maand is wingerd ter waarde van sowat R150 000 op die plaas Hugoskraal van mnr. Pieter Hugo naby Rawsonville vernietig nadat werkers van CapeNature glo ’n vonk met ’n masjien veroorsaak het.
Was jy op die toneel? Stuur vir ons jou foto's of stories vir publikasie.
- Die Burger