Braai op die maat van rock en reggae
2010-09-17 01:32
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Die Burger op
Stellenbosch
“Maak nie saak nie, my lanie , as jy my nie verstaan nie.”
Só sing die Stellenbosse rockers Zinkplaat en die reggaegroep Tidal Waves in Braai4Heritage se nuwe liedjie vir Erfenisdag, wat op 24 September gevier word.
Daar is egter ’n skraal kans dat luisteraars nie ál die woorde gaan verstaan nie, want dié liedjie – “Chisa Nyama” – bevat lirieke in ses Suid-Afrikaanse tale.
Chisa Nyama is die Zoeloe-term vir braaivleis.
Die liedjie is Dinsdagaand in AmaZink in Kayamandi buite Stellenbosch bekend gestel. Bertie Coetzee, Zinkplaat se sanger, het toe gesê die groepe dink die liedjie én musikale samewerking kan verskillende kulture saamsnoer.
Charlie Mathopa, Tidal Waves se baskitaarspeler, was van mening die liedjie sal almal laat welkom voel. “Dit is ’n toekomsliedjie,” het hy bygevoeg.
Mnr. Jan Braai, oftewel Jan Scannell, het vroeër vanjaar in Stellenbosch vir Zinkplaat en Tidal Waves saam sien optree.
“Voor die Waves van die stage afgespoel het, het Zinkplaat opgery. Hulle was gelyk daar bo en speel toe so ’n bietjie saam. Ek het gedink dit klink nogal lekker,” het Braai gesê.
Hy het later aan Coetzee voorgestel dat die twee groepe saam ’n braaidagliedjie opneem. Van dié idee het Coetzee dadelik gehou.
“As ons saam met Tidal Waves se ouens om ’n vuur sit, praat ons gereeld oor Suid-Afrika,” het hy gesê.
Braai dink “die song is ’n redelike goeie refleksie van die braaidaggees”.
“Die Nasionale Braaidag-boodskap is baie eenvoudig: Kry op 24 September jou vriende en familie bymekaar, steek ’n vuur aan en braai. Dit is al.”
- ?“Chisa Nyama” en ’n ander braaidaglied deur Die Heuwels Fantasties, Jack Parow, die Soweto Gospel Choir, JR en HHP gesamentlik, kan gratis by www.braai4heritage.co.za afgelaai word.
- Die Burger