Boere treur ná moord
2011-02-19 04:51
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Die Burger op
Stellenbosch - Terwyl ’n plaasmoord op ’n Stellenbosse boer dié Bolandse gemeenskap laat steier het, het ’n sterk teenwoordigheid van polisiedeskundiges en lede van die spesiale taakmag laer getrek rondom die plaashuis langs die R304.
Mnr. Alberto Costa (44) van die plaas Cloetesdal – net ’n klipgooi van die woonbuurt Khayamandi – is gisteroggend doodgeskiet toe hy blykbaar op sy blaffende honde gereageer het.
Skietgeveg
Gewapen met ’n haelgeweer het Costa die oggend vroeg buite sy goed beveiligde huis ondersoek gaan instel.
Hy is toe oorval deur twee gewapende mans wat glo ’n gat onder ’n heining gegrawe het om toegang tot die perseel te kry.
In ’n skietgeveg tussen die drie mans is Costa noodlottig gewond nadat hy vermoedelik een van die rowers raakgeskiet het.
Die polisie en ’n sekerheidswag van die Stellenbosch-wag het hulle omstreeks 02:50 na Cloetesdal gehaas toe hulle op ’n alarmsein van die plaas gereageer het.
Met hulle aankoms op die toneel het hulle op Costa se lyk afgekom.
Hy is in die bors gewond, het lt.kol. André Traut, provinsiale polisiewoordvoerder, gesê. Hy was reeds dood.
Albei verdagtes het gevlug.
’n Bloedspoor het daarop gedui dat een van hulle moontlik swaar gewond is, het Traut bygevoeg.
Costa se vrou, Zelda, en twee kinders van drie en agt jaar oud is nie beseer nie.
Tussen die digte wingerde en olyfbome wat tot teenaan die ligbruin plaashuis kom, het ’n magdom polisielede die gebied gister gefynkam.
Lede van die spesiale taakmag het ook later opgedaag.
Langs ’n boomlaning, sowat 200 m van die huis, het twee polisievoertuie gestaan waar ’n gedeelte van die heining met polisielint afgesper was.
Ander beamptes het oor die toneel geswerm op soek na enige leidraad.
Alle lede van die media is weggewys van die plaas – wat sowat 500 m van die hoofpad geleë is – omdat die hele gebied as ’n moordtoneel ondersoek word.
’n Jare lange vriend van Costa en ’n boer van die gebied, mnr. Rudi Buys, het gesê boere van heinde en ver het hom oor die skoktyding gebel.
“Die hele Bolandse boeregemeenskap treur vandag,” het hy gesê.
‘Almal se pêl’
Volgens Buys was die slagoffer “nie net ’n suksesvolle en gesiene boer in die gemeenskap nie, maar hy was almal se pêl”.
Hy en Costa was 25 jaar lank vriende.
Mnr. Beyers Truter, wat sowat twee plase van Cloetesdal af boer, het Costa as ’n “meelewende mens” beskryf.
“Hy gaan verskriklik gemis word in die landbougemeenskap,’ het Truter gesê.
“Dit is nie net ’n geval van ’n pa wat verlore is vir sy kinders nie, maar dit beteken ook ’n vrou wat moet aanpas, omdat haar man nie meer daar is nie,” het Truter bygevoeg.
Mnr. Carl Opperman, uitvoerende hoof van Agri Wes-Kaap, het gister gesê die moord het weer eens bevestig dat veiligheid, sekerheid en wetteloosheid in die land ernstige en dringende aandag moet kry.
- Die Burger