‘Bendelid se skieter’ vra om borgtog
2012-02-24 00:00
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Die Burger op
KAAPSTAD. – Die borgtogverhoor van ’n man wat op Valentynsdag na bewering sy gewese vrou se vriend voor ’n skool doodgeskiet het, het gister in die Wynberg-landdroshof plaasgevind.
Mnr. Leon Williams (37) van Surrey Estate in Athlone staan tereg op aanklag van moord op Rashied Moses (37) van Manenberg.
Moses was ’n veroordeelde moordenaar en vermeende lid van die Hard Livings-bende. Hy is verlede jaar uit die tronk vrygelaat nadat hy in 1996 tot 20 jaar tronkstraf vir moord gevonnis is.
Mnr. Kepler Uys, staatsaanklaer, het gesê die beskuldigde het blykbaar buite die St. George’s Grammar School in Mowbray met sy gewese vrou in ’n stryery oor hul kinders betrokke geraak.
Moses het na bewering ook betrokke geraak. Williams het hom blykbaar genader en na bewering een keer in die kop en twee keer in die bolyf geskiet.
Mnr. John Riley, Williams se prokureur, het Williams se beëdigde verklaring in die hof voorgelees.
Williams sê daarin hy besit verskeie eiendomme en ’n vervoermaatskappy, LW Transports. Hy is die voorsitter van die Manenberg-taxivereniging en dien ook in ander rade.
Tien beëdigde verklarings ter ondersteuning van Williams se karakter is ook ingehandig.
Hy en sy vrou is in Januarie 2011 volgens die Moslemgeloof geskei. Riley het gesê die gewese vrou het beweer die moord is uit “jaloesie en narcistiese woede” gepleeg.
Uys het die ondersoekbeampte, ao. Barry Knol, as getuie geroep.
Knol het gesê die enigste rede hoekom borgtog teengestaan word, is omdat Williams se gewese vrou vir haar lewe vrees.
Riley het Knol uitgevra oor ’n klankgreep wat op ’n selfoon opgeneem is. Daarin kan ’n mens hoor hoe ’n vrou haar seun aggressief uitskel, het Riley gesê. Dié vrou is Williams se gewese vrou wat op haar seun skree, het Riley gesê.
“Dit klink nie vir my soos ’n vrou wat vir haar lewe vrees nie.”
Uitspraak word na verwagting vanoggend gelewer.
- Die Burger