‘Belhar help om terreur te regverdig'
2012-02-02 00:00
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Die Burger op
PRETORIA. – Die belydenis van Belhar het in die jare tagtig gehelp “om die geweld en terreur asook kerkleiers se betrokkenheid daarby te regverdig”.
Só voer genl. Johan van der Merwe, gewese kommissaris van polisie, aan in ’n memorandum van 15 bladsye wat hy aan die dagbestuur van die moderamen van die NG Kerk se algemene sinode gestuur het.
Dit kom ná die algemene sinode se besluit om Belhar deel van die NG Kerk se belydenisgrondslag te maak.
Van der Merwe voer aan dat geestelike leiers soos drs. Allan Boesak en Beyers Naudé nuttige werktuie in die hande van die ANC en SAKP was.
Die ANC se stryd het eintlik om politieke mag gegaan, maar “op slinkse wyse” is apartheid voorgehou as die euwel waarteen die stryd gerig was.
Belhar was deel van die teologiese regverdiging van dié stryd.
Volgens hom het Boesak met verborge agendas gewerk en kerklike vergaderings gemanipuleer om apartheid tot sonde te verklaar, waarna Belhar opgestel en aanvaar is.
Hy meen Bybeltekste in Belhar is baie selektief gekies om die revolusionêre boodskap van die ANC en SAKP te steun.
Hy beskuldig Boesak en Naudé daarvan dat hulle hulp verleen het wat terroriste in staat gestel het om dood en verminking te saai.
Boesak het dié bewering gister verwerp. Hy staan soos destyds steeds vir geweldlose weerstand.
Oor die geweld van die veiligheidsmagte het Van der Merwe gesê daar is deur propaganda daarin geslaag om voor te gee dat die polisie gewelddadig opgetree het sonder om die gemeenskap te beskerm.
Die geweld van die veiligheidsmagte “is nooit met nyd, kwaadwilligheid of in eie belang” gepleeg nie.
Dit geld ook die bom wat by Khotso-huis, die hoofkantoor van die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke, geplant is. Oor sy aandeel aan die aanval op Khotso-huis is hy glad nie spyt nie. Baie revolusionêre bedrywighede is volgens hom onder die dekmantel van die SARK gepleeg.
Oor apartheid sê Van der Merwe afsonderlike ontwikkeling is deur die propaganda vervlak tot apartheid en toe as euwel gebrandmerk.
Hy meen aspekte van afsonderlike ontwikkeling het verkeerd geloop, maar ontken dat die beleid in wese verkeerd was.
Boesak het gesê Van der Merwe verdedig apartheid steeds, ondanks die euwel wat dit was. “Dis meer ’n probleem vir homself en vir die NG Kerk as vir ons.”
Hy beskou Van der Merwe se standpunt as ’n stuk regverdiging van onheilige politiek wat deur die NG Kerk self as sonde afgemaak is.
Van der Merwe bied sy memorandum aan as “feitegrondslag vir die moderamen uit die hoek van oudlede van die SA Polisiemag”. Hy sê hy het wyd oorleg gepleeg, maar dis sy eie standpunt.
Dis moeilik om te sê hoe wyd sy standpunt deur ander oudpolisiemanne gedeel word, maar in die kringe waarin hy beweeg, stem almal met hom saam.
Hy vra in die memorandum watter uitweg die moderamen aan lidmate gaan bied wat gewetensbesware het teen Belhar in sy huidige vorm.
“Hoe kan die NG Kerk steeds ’n geestelike tuiste vir so ’n lidmaat wees?” wil hy weet.
Die dagbestuur van die NG Kerk se moderamen het gesê hy wil Van der Merwe se memorandum met hom bespreek.
- Die Burger