Ballen maak Antwoord-video
2012-02-04 03:00
JOHANNESBURG. – Die kreatiewe vennootskap tussen die rapgroep Die Antwoord en die gesiene fotograaf Roger Ballen het des te meer “freaky” geword toe dit bekend geword het dat Ballen die musiekvideo vir die groep se nuwe treffer, “I Fink U Freeky”, gemaak het.
Ballen het ook die foto’s geneem vir ’n onlangse artikel in die New York Times oor die groep.
Ballen (61) is in New York gebore en woon en werk al langer as 30 jaar in Johannesburg. Voordat hy ’n fotograaf geword het, was hy ’n geoloog en mynkonsultant.
Ballen is saam met Ninja die regisseurs van die video, wat vervaardig is deur Blade F—k You Frazer van Zef Filmz.
Sedert die video Dinsdagaand bekend gestel is, het meer as 815 000 mense al op YouTube daarna gekyk.
“I Fink U Freeky”verskyn op Die Antwoord se nuwe album, Ten$ion, wat volgende week wêreldwyd uitgereik word.
Die video eggo Ballen se voorliefde vir swart-wit-foto’s van mense in armoedige omstandighede, van ’n skaduwêreld tussen werklikheid en fiksie.
Werke uit Ballen se uitstallings Shadow Chamber en Boarding House, asook uit die fotoboek Dorps, The Small Towns of South Africa kom by ’n mens op as jy na die video kyk.
Die video is in swart en wit geskiet. Yo-landi Vi$$er is in die bad met muise om haar heen, terwyl Ninja óf bewegingloos op ’n stoel sit óf freneties danspassies uitvoer.
Die omgewing waarin die video geskiet is, is ongetwyfeld Ballenesk, met die kenmerkende draadwerk en draadwerktekeninge teen die mure.
- Die Antwoord is Maandag die gaste in die Amerikaanse TV-program The David Letterman Show.
- Die Burger