Almal sal kan doen met ’n lemoen
2010-07-07 01:30
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Die Burger op
Kaapstad
Die Moederstad se strate was gister weer in oranje getooi vir die Wêreldbeker-halfeindstryd tussen Nederland en Uruguay gisteraand.
Nie net het hordes Nederlandse sokkergeesdriftiges in hul kenmerkende oranje kleredrag op die stad toegesak nie, maar daar was ook talle sakke lemoene oral op die Lekkerlooproete tussen die middestad en die Kaapstad-stadion te sien.
Die Nederlandse konsulaat, in samewerking met die stigting Stars in Their Eyes van die Wes-Kaapse regering, het gister die veldtog “Oranges for Orange” buite dié konsulaat van stapel gestuur.
Mense op die Lekkerlooproete kon sakkies lemoene vir R20 elk “koop”. Pleks van ’n sakkie lemoene het hulle ’n medalje ontvang. Die lemoene gaan in 51 plattelandse dorpe aan minderbevoorregtes uitgedeel word en die geld gaan aan Stars in Their Eyes.
Dié stigting gebruik die kundigheid van Nederlandse sokkerafrigters om plaaslike afrigters uit minderbevoorregte gemeenskappe op te lei.
Die geleentheid is amptelik geopen deur mnr. David de Waal, konsul-generaal van Nederland in Suid-Afrika. Hy het die eerste sakkie lemoene gekoop.
Dr. Laurine Platzky, Wes-Kaapse 2010-koördineerder, het gesê sy is baie opgewonde oor die veldtog. “Ek dink dit is fantasties dat top-afrigters van Nederland ons plaaslike afrigters gaan kom leer.”
Mnr. Ronald Gabriel, projekbestuurder van Stars in Their Eyes en adjunkdirekteur van die Wes-Kaapse departement van sport en kultuur, het gesê: “Dié afrigters word nie net geleer hoe om sokker af te rig nie, maar ook hoe om belangrike lewensvaardighede oor te dra.”
Mnr. Nic Jooste, stigter van die stigting, het gesê altesaam 181 afrigters is die laaste tyd by die Universiteit Stellenbosch deur top- Nederlandse afrigters opgelei.
“Ons wil leiers identifiseer om mense in minderbevoorregte gebiede in vele aspekte van die lewe op te lei.”
Hy het bygevoeg dit is ook’n bewusmakingsprojek. “Ons wil die projek spesifiek onder die Nederlanders se aandag bring om meer geld te kry sodat ons na nog meer gemeenskappe kan uitreik.”
’n Kaapse Klopse-groep, geklee in oranje, het ook hul deel bygedra. Ter ondersteuning vir die veldtog, en natuurlik die Nederlandse span, het hulle Nederlandse sokkerliedjies by die geleentheid gespeel.
- Die Burger