Afrikaans sterf, sê Breyten
2010-03-25 00:28
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Die Burger op
Johannesburg
Hy is bevoorreg om Afrikaans in sy leeftyd te sien uitsterf, het die digter Breyten Breytenbach gister gesê.
“Ek dink dit ís aan die gebeur. Ek dink dit gebeur en die res is net ’n gefluit in die donker om jouself moed te gee terwyl jy deur die begraafplaas loop.”
Die grootste faktor is die taal se verlies aan amptelike status, het Breytenbach gesê in ’n onderhoud op Talk Radio 702 wat gistermiddag uitgesaai is.
“Dit veg om oorlewing op universiteitsvlak, in sekere mate op skoolvlak, en word uitgefaseer as die taal van kommunikasie op amptelike maniere soos regeringskennisgewings en dies meer.”
“... Hierdie taal... is gekaap deur mense vir hul eie politieke doelwitte en hulle het dit besoedel. Ek dink dit is byna onmoontlik om terug te gaan en dit te sien vir wat dit was.”
Die teenargument dat mense dit tog steeds altyd sal praat is volgens Breytenbach kortsigtig. Hy meen dit kom hoofsaaklik neer op ’n “vreeslike verlies aan diversiteit”.
“Hierdie land bestaan uit diversiteit. As ons dit verloor, as ons op ’n bespotlike manier dink ons gaan meer homogeniteit hê as almal dieselfde taal praat... dieselfde dans dans en voorgee om aan dieselfde dinge te glo en dat ons só vorentoe beweeg, sal dit die dood van die land wees.
“Per definisie is ’n Suid-Afrikaner ’n ‘kleurvolle baster,’ en as ons dít verloor – en ons verloor dit met Afrikaans – is dit soos om ’n voëlspesie te verloor, soos om een van jou sintuie te verloor.”
Die historikus prof. Hermann Giliomee het gesê hy meen Breytenbach is reg.
Volgens hom loop Afrikaans die gevaar om oor die volgende vyf tot tien jaar as akademiese, tegnologiese en wetenskaptaal “geknak” te word.
“Dit is in die eerste plek die skuld van die wit Afrikaanssprekendes. Op universiteite soos Stellenbosch en Pretoria is daar op amper roekelose wyse in verskeie fakulteite van Afrikaanse studente op nagraadse vlak ontslae geraak.”
Mnr. Johann Rupert, sakeman en kanselier van die US, meen egter Afrikaans was in groter gevaar tydens die apartheidsjare.
“Die oorname van Engels wêreldwyd, veral wat betref taalgebruik op die internet, plaas alle tale behalwe Engels onder druk.”
Prof. Wannie Carstens, voorsitter van die Afrikaanse Taalraad, het dit beaam.
“Ek erken Afrikaans is onder druk, maar dit geld ook al die ander Afrika-tale. Afrikaans is stewig gevestig in die land en aktief aan die gang”
- Die Burger