Aansoek onttrek om te myn in wynlande
2010-03-11 08:09
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Die Burger op
Jean-Marie de Waal, Kaapstad
Die wynlande is vir eers veilig. Die staatsbeheerde mynmaatskappy
gaan sy prospekteerreg-aansoeke vir die Bottelary-gebied naby Stellenbosch,
asook aan die voet van die Tygerberg, terugtrek.
Dít is volgens die direkteur-generaal (DG) van minerale bronne,
adv. Sandile Nogxina. Die mynmaatskappy het volgens die DG eers ná die aansoeke
ingedien is vasgestel dié gebiede is onder wingerd.
Dit het groot openbare reaksie ontlok – selfs in die
buiteland.
Nogxina het aan Die Burger gesê die aansoeke gaan beslis
teruggetrek word na aanleiding van sy gesprekke met die maatskappy. ’n Aansoek
waar dit later blyk daar ’n natuurreservaat of ander bedrywe bo op die grond
bedryf word, sal nooit toegestaan word nie, het die DG verder gesê.
Die gebied sluit in die Bottelary- heuwels-renosterveld-bewarea, ’n
deel van die Jordan-wynlandgoed en die historiese De Grendel-landgoed.
Die staatsbeheerde mynboumaatskappy African Exploration Mining and
Finance Corporation sal nie ’n “agterdeur” kan vind nie, het Nogxina
verseker.
“Die wetlike prosesse maak dit onwettig vir ons om so ’n aansoek
toe te staan.”
Aansoeke hiervoor is ingevolge die Wet op die Ontwikkeling van
Minerale en Petroleum-hulpbronne by die departement van minerale en energie
ingedien.
Mnr. Gary Jordan van die Jordan-wynlandgoed se grond is regstreeks
geraak deur die aansoek om prospekteerregte in die Bottelary-gebied. Toe Sake24
hom gistermiddag bel om oor die terugtrekking van die aansoeke in te lig, was hy
nog onbewus van die besluit.
Hy het gesê die terugtrekking word verwelkom, maar dit is baie
jammer daar moes eers ’n landwye herrie oor dié kwessie ontstaan het.
“Ek is besorg daaroor dat die hele land nou senuagtig is,” het hy
gesê.
Mnr. Johan Malan, voorsitter van die Kaapse Wyngilde, het gesê dit
is goeie nuus, want die langtermyn-voordele van die wynbedryf is groter as die
korttermyn-voordele wat prospekteerdery bring.