|
|||||||||||
|
| VIND: |
Suid-Kaap
Vermoorde man wou ‘oulike werker’ ’n bonus gee
18/10/2008 12:31:31 AM - (SA)
George. - Die man wat vroeër vandeesweek op ’n plaas naby Hoekwil vermoor is, was van plan om die “oulike werker” wat hom so mooi gehelp het ’n bonus te gee.
Mnr. Barry Killeen (69) van Denneoord se lyk is Woensdag in ’n plaashuis in die Woodville-gebied gevind. Hy is vermoedelik vermoor deur die man wat hy Maandag langs die straat opgelaai het om hom te help met onderhoudswerk aan die huis.
Mnr. Petrus Grobler, VF+-raadslid, lid van die burgemeesterskomitee en jare lange vriend van die oorledene en sy vrou, Valerie, was gister baie geskok oor die moord. “Ek het vanoggend in Die Burger gelees van die moord. My nommer is op Barry se gesteelde foon en Valerie kon my nie bel nie,” het hy gister geskok vertel.
“Dit is so ironies dat so ’n dierbare mens wat so hardwerkend en vol lewenskrag was so wreed moes sterf.
“Valerie sê hy was so opgewonde oor die nuwe werker. Hy het nog vir haar gesê hy het lank laas so ’n ordentlike mens gekry om saam met hom te werk.
“Omdat die werker so goed gewerk het, sou hy gouer met die onderhoudswerk kon klaarmaak en sou hy vir die man ’n bonus gee.”
Volgens Grobler is ’n projek onderweg wat werklose mense van die strate af sal haal. “Hulle sal geregistreer word en as iemand ’n werker met ’n spesialisvaardigheid nodig het, sal die databasis geraadpleeg word. Dit sal hopelik voorvalle soos dié voorkom.”
Die burgemeester, mnr. Flip de Swardt, het mev. Killeen gister besoek, maar sy was nog te geskok om met die media te praat.
Volgens mnr. Ntobeko Mangqwengqwe van die polisie in die Suid-Kaap is niemand nog in hegtenis geneem nie.
“Alle moontlike leidrade word opgevolg. Enigiemand met inligting aangaande die voorval word versoek om die ondersoekbeampte, insp. Klippies Theron, by 044 803 4400 te bel.
Die nadoodse ondersoek is reeds gedoen, maar in hierdie stadium kan geen besonderhede bekend gemaak word nie.
|
|
|||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
| Kontak
ons | Navrae
| Teken in
op ons nuusbrief | Vrae
oor registrasie | Adverteer
| gebruikersooreenkoms
| |