|
|||||||||||
|
| VIND: |
Suid-Kaap
Help bou aan veilige SA – Meyer
07/09/2008 08:04:12 PM - (SA)
Suid-Afrikaners moet positief dink oor die land en eerder mense oorreed om nie die land te verlaat nie.
Oud-minister Roelf Meyer het dié pleidooi Vrydagaand hier op die Metamorfose-interkerklike konferensie gelewer. Hy is as ’n gasspreker na die konferensie genooi om te praat oor “Waarom ek positief bly oor Suid-Afrika”.
Meyer het gesê mense wat hier bly moet ’n positiewe bydrae lewer soos om byvoorbeeld van die land ’n veilige plek te maak.
Hy kan nie anders as om positief oor Suid-Afrika te wees nie.
Daar is wel dinge soos die misdaadsituasie wat mense frustreer en vrae laat vra.
Dit is verreweg die grootste probleem en dit is veral die gewelddadige aard wat problematies is. Die misdaadsituasie kom in baie gemeenskappe voor en is nie beperk tot een bevolkingsgroep nie.
Dit gesê, moet mense eerder hul negatiewe gevoelens in positiewe dade omskep en nie die land verlaat nie.
In dié verband is hy as projek-leier betrokke by Aksie vir ’n Veilige Suid-Afrika. Hierop het hy reeds baie goeie reaksie gekry van onder andere leiersfigure soos me. Graça Machel, mnr. Cyril Ramaphosa en me. Cheryl Carolus.
Dit bewys dat Suid-Afrikaners ’n begeerte het om saam die euwel van geweldsmisdaad te verwyder.
Die kernbeginsels van die vreedsame oorgang na ’n nuwe politieke bedeling moet ook in gedagte gehou word vir die toekoms.
So byvoorbeeld moet alle Suid-Afrikaners saam deelneem om die land te bou. “Ons is nie ’n meerderheid teenoor minderhede nie. Almal moet deelneem aan die land se bestaan en toekoms.”
Suid-Afrikaners moet eienaarskap neem. Hulle sal self die probleme moet oplos. Onderlinge vertroue is ook baie belangrik tussen al die mense. Daar moet gewerk word om die vertroue wat dalk verloor is, weer te herstel.
Hy het verwys na die situasie tydens die destydse politieke onderhandelings. As hy en Ramaphosa mekaar nie vertrou het nie, sou dit ’n gesukkel gewees het om ’n vreedsame bedeling te vestig.
Meyer het gesê hy is bevoorreg om baie te kan reis. As mense dink dit gaan nie goed in Suid-Afrika nie, moet hulle ook ander plekke sien en beleef hoe mense daar swaarkry.
|
|
|||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
| Kontak
ons | Navrae
| Teken in
op ons nuusbrief | Vrae
oor registrasie | Adverteer
| gebruikersooreenkoms
| |