07/09/2008 08:04:44 PM - (SA)
George. – Die liggaam van ’n onbekende man is Saterdagmiddag in die see by Harkerville tussen Knysna en Plettenbergbaai gevind.
Dis vermoedelik die liggaam van die 21-jarige mnr. Terrance Davis van Arkansas, Amerika wat kon verdrink het toe ’n brander hom verlede Maandag van die rotse af geslaan het.
Volgens mnr. Craig Lambinon, woordvoerder van die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI), is die liggaam sowat 100m van die strand in die water deur veldwagters van die Nasionale Parkeraad gesien. Die NSRI se reddingstuig is na die toneel en het die liggaam aan boord geneem . Davis se familie is in kennis gestel, maar forensiese toetse sal uitgevoer word om vas te stel of dit wel Davis is. – Eugene Gunning