|
|||||||||||
|
| VIND: |
![]() Suid-Kaap
Nuwe toerisme-organisasie in Oudtshoorn wag eers
06/09/2008 12:51:23 AM - (SA)
Oudtshoorn. - Planne om ’n nuwe toerisme-organisasie vir Oudtshoorn te stig, word eers teruggehou.
’n Handjie vol mense het eergisteraand op inisiatief van mnr. Nic Barrow, bekende sakeman van die dorp, vergader om die moontlikheid te bespreek van die stigting van ’n nuwe, alternatiewe organisasie vir die Oudtshoorn Toerismeburo (OTB).
Planne was gereed om ’n nuwe organisasie, die Oudtshoornbesoekersburo, te stig.
Die vergadering het met groot geesdrif begin. Nadat ’n lid van die gehoor daarop gewys het dat die stadsraad vroeër die middag geld vir die OTB goedgekeur het, het dit ’n ander rigting ingeslaan.
Die ontevrede mense, wat verskeie rolspelers in die toerismebedryf in Oudtshoorn insluit, het besluit om tot 18 September te wag voordat oor verdere optrede besluit sal word.
Die OTB se jaarvergadering vind op dié dag by Baron’s Palace in Oudtshoorn plaas.
Op dié vergadering sal die OTB en die De Rust Toerismeburo ook saamsmelt en die gesamentlike organisasie sal as Groter Oudtshoorn Toerisme bekend staan.
Mnr. Anton Schoeman, ondervoorsitter van die OTB, wou gister by navraag geen kommentaar lewer nie.
Hy het wel gesê besonderhede sal Dinsdag bekend gemaak word oor samewerking tussen die OTB en die munisipaliteit.
Besonderhede sal oor die toekoms van die OTB verskaf word.
Op die vergadering eergisteraand het Barrow gesê sy hart sê stig af.
Hy het benadruk dat as die nodige geld nie op 18 September beskikbaar gestel word nie, planne sal voortgaan vir die stigting van ’n nuwe toerisme-organisasie.
|
|
|||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
| Kontak
ons | Navrae
| Teken in
op ons nuusbrief | Vrae
oor registrasie | Adverteer
| gebruikersooreenkoms
| |