|
|||||||||||
|
| VIND: |
![]() Suid-Kaap
Inwoners gepols oor Buffalo Rally
05/09/2008 08:06:44 PM - (SA)
George. - Die lot van die Buffalo Rally berus nou by die inwoners van Mosselbaai.
Die stadsvaders het besluit om ’n meningsopname te doen nadat hulle aanvanklik geweier het om dié gewilde motorfiets-saamtrek weer hier te hou.
Inwoners moet voor 30 September ’n stembrief, wat aan rekeninghouers gepos sal word, by die munisipale kantore inhandig.
Die “Buff”, wat ook sorg vir wye mediablootstelling, het in die verlede tot R15 miljoen tot die dorp se geldkoffers bygedra. Bykans 7 000 mense met 5 500 motorfietse het verlede jaar die saamtrek, wat deur die Nomads-fietsryklub aangebied word, hier bygewoon.
Die burgemeester, me. Marie Ferreira, het vroeër gesê die besluit om die saamtrek nie weer toe te laat nie, is geneem op grond van die besware van inwoners teen veral die lawaai en onaanvaarbare gedrag van deelnemers.
Inwoners blyk egter verdeeld te wees oor die aanbieding van die Buff. Sommige meen dit genereer ’n goeie inkomste vir sakeondernemings en liefdadigheidsorganisasies. Ander kla oor die enjingeraas van die motorfietse en die “doughnut”-draaie wat deur motorfietsryers gemaak word.
Die raad sal ’n finale besluit oor die aansoek neem nadat die meningsopname voltooi is.
Mnr. Luderick Jacoby, voorsitter van die Nomads, het gister gesê die klub verwelkom die stap.
Die motorfietsryers is, te oordeel na talle skrywes wat hy in dié verband ontvang het, gretig om na Mosselbaai terug te keer.
“Kyk, daar was in die verlede klagtes oor rusverstoring. Daar is geraas betrokke, want dit is immers ’n motorfiets-saamtrek.
“Maar mense moet onthou dit duur net vir twee dae en sorg boonop vir ’n welkome ekonomiese inspuiting vir die dorp.”
Die Nomads het in die verlede tot 100 tydelike werkers in diens geneem om met ablusiegeriewe by die kampeerplek te help. “Dit is ’n inkomste vir dié mense wat hulle andersins nie sou gehad het nie.”
|
|
|||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
| Kontak
ons | Navrae
| Teken in
op ons nuusbrief | Vrae
oor registrasie | Adverteer
| gebruikersooreenkoms
| |