|
|||||||||||
|
| VIND: |
![]() ’n Huis by Suiderkruis in Groot-Brakrivier staan kniediep in die water nadat die gety baie hoog opgestoot het in die Groot-Brakrivier. Foto: JAN GERBER
Suid-Kaap
Kommer heers oor waarskuwingstelsel
05/09/2008 08:09:15 PM - (SA)
George. - Buitengewoon hoë getygolwe van tot 9 m het vandeesweek nie naasteby soveel skade aangerig soos die oorstromings in November 2007 nie, maar kommer bestaan oor die gebrek aan ’n voldoende vroeë waarskuwingstelsel.
“Sowat R200 000 se skade is by George se strande aangerig,” het mnr. Harold Basson van die George-munisipaliteit gister gesê.
Die pad en keermuur voor die huise in Victoriabaai sal teen Woensdag herstel wees.
In Heroldsbaai is die sand van die pad verwyder en word ’n deel van die keermuur herstel. Hier behoort herstelwerk teen Dinsdag afgehandel te wees.
By Leentjiesklip in Wildernis is opruimingswerk afgehandel.
“Daar is nie vreeslik baie struktuurskade nie, maar die buitengewone hooggety het die sand by Sentraal- en Lookout-strande weggevat,” het mnr. Mark Fourie van die Bitou-munisipaliteit gesê. Volgens hom het sowat 60 m² sand by Sentraalstrand weggespoel. “Dis sinloos om soveel sand in te ry. Die see moet dit maar weer self terugbring.”
Dié strand is gestabiliseer met sandsakke en die paadjie na die Nasionale Seereddingsinstituut se lanseerplek is herlei sodat die bote kan in- en uitgaan. Fourie het gesê dit is te vroeg om die skade te bepaal.
Mosselbaai se ingenieurs kon nie vir kommentaar opgespoor word nie.
“In die Suid-Kaap is klimaatsverandering ’n gegewe en ons moet beplan vir ekstreme toestande,” het mnr. Gerhard Otto, hoof van rampbestuur van die Eden-distriksmunisipaliteit, gesê.
“Die vroeë waarskuwingstelsel is ’n bron van kommer, want waarskuwings kom nog nie betyds by almal uit nie.”
Daar word volgens Otto gekyk na ’n gesofistikeerde stelsel wat met behulp van SMS-boodskappe waarskuwings wat deur die Suid-Afrikaanse Weerdiens uitgereik word so gou moontlik na gemeenskappe kan herlei.
Volgens Otto kan inwoners in laaggeleë gebiede ook self vloedskade beperk. (Sien kassie.)
Volgens die weerdiens word geen reën of stormwind vir die naweek verwag nie. Deinings van meer as 5 m kan voorkom weens wind oor die oseaan.
|
|
|||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
| Kontak
ons | Navrae
| Teken in
op ons nuusbrief | Vrae
oor registrasie | Adverteer
| gebruikersooreenkoms
| |