|
|||||||||
|
|
Stuur enige kommentaar, stories, foto's of wenke aan web@dieburger.com | ||||||||
| VIND: |
![]() Suid-Kaap
Bejaarde man se moordenaar kry lewenslank
05/09/2008 12:08:29 AM - (SA)
Oudtshoorn. – ’n Man van Dysselsdorp wat verlede jaar ’n bejaarde man van Oudtshoorn in sy slaapkamer vermoor het, is dié week in die Oudtshoorn-streekhof lewenslange gevangenisstraf opgelê.
Hendrik Goeieman (29) is daaraan skuldig bevind dat hy mnr. Fanie Cloete (76) op 15 Oktober 2007 met sy eie lyfband verwurg en daarna beroof het.
Goeieman het tereggestaan op aanklagte van huisbraak, moord en roof met verswarende omstandighede. Hy het vroeër skuld beken en is op al drie aanklagte skuldig bevind.
Mnr. Marius van Wyngaardt, streeklanddros, het in sy uitspraak gesê Goeieman het ’n wrede moord gepleeg en die lewe van sy werkgewer geneem.
Goeieman was sowat drie maande lank Cloete se tuinier. Hy het op dié dag sy loon vroeg ontvang omdat Cloete na George onderweg was.
Hy is daarna na ’n kroeg waar hy 3F suurwyn gedrink het. Hy het toe na Cloete se huis teruggekeer om te steel en het deur ’n klein venster toegang verkry.
Die oorledene het met ’n kolf uit sy kamer gekom en wou hom daarmee slaan.
’n Struweling het ontstaan en toe hy Cloete se lyfband op die bed sien lê, het hy dit om sy nek gebind. Cloete het later geval.
“Ek het gedink hy is flou en hom daar laat lê sonder om die lyfband te verwyder,” lui Goeieman se bekentenis.
Hy het met R160 kontant, ’n selfoon, skoene, vleis en koekies weggekom.
Mnr. Bongani Timothy was die aanklaer en mnr. Wenzel Botha het vir Goeieman verskyn.
|
|||||||||||||||||||||||||||
| Kontak
ons | Navrae
| Teken in
op ons nuusbrief | Vrae
oor registrasie | Adverteer
| gebruikersooreenkoms
| |