|
|||||||||||
|
| VIND: |
![]() Reuse golwe het die uitsig van Sentraalstrand by Plettenbergbaai heeltemal verander. Foto: RAY FARNHAM, NSRI Plettenbergbaai
Suid-Kaap
Stormskade: Fratsgolwe vee Plet plat
03/09/2008 09:00:30 PM - (SA)
Plettenbergbaai. - Fratsgolwe het vroeër vandeesweek groot skade in Plettenbergbaai aangerig.
By Sentraalstrand het ’n golf Maandagmiddag die strand sowat 3 m diep weggekalwe.
“Ek kan nie uit my kantoor kom nie, want hier is ’n afgrond van 3 m,” het mnr. Ray Farnham, die hoof van die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) se kantoor hier, gister gesê. “Ons kan nie ons groot reddingsboot uitkry nie, net die twee kleineres van 4 m en 5 m.”
Die ruwe see, met golwe van tot 9 m, het Maandag die strand weggekalwe. “Dinsdag was die golwe nog tussen 5 m en 6 m hoog, aangedruk deur ’n wind van tussen 30 en 40 knope. Die Piesangrivier loop hier tussen 50 m en 60 m breed.”
Volgens hom was daar gister min mense op die strand. Net ’n paar branderryers het die reusegolwe geniet. “Dit is nie moontlik om in dié stadium te sê hoeveel skade aangerig is nie.”
Die dek van die skibootklubhuis is ook weggespoel. Mnr. Mark Fourie van die Bitou-munisipaliteit kon nie gister opgespoor word vir kommentaar oor die skade aan die strand nie.
“Die hut in die Robberg-natuurreservaat het ook Maandagmiddag in die slag gebly toe ’n massiewe golf dit met een hou platgevee het,” het mnr. Henk Niewoudt, hoof van dié reservaat, gesê.
“Die hut by die punt, wat in 1943 deur die hengelklub gebou is, is verlede jaar teen groot koste gerestoureer. Dit was groot moeite om te herstel, want boumateriaal moes met ’n helikopter ingevlieg word.
“Maandag omstreeks 16:30 het ’n fratsgolf van seker goed by die 7 m die hut platgevee.”
Volgens Niewoudt is die broeikolonie van swartrugmeeue, swarttobies, lepelaars en skoorsteenveërs wat naby die mond van die Keurboom-strandmeer nesmaak, ook weggespoel.
“Verlede jaar in Desember het ons tussen 500 en 700 van die meeukuikens hier gering, en dit was maar sowat die helfte van dié wat hier uitgebroei het.”
Die rioolstelsel by die ruskamp in die Tsitsikamma- Nasionale Park is ook beskadig. Volgens die Suid-Afrikaanse Nasionale Parke is geen verblyf vir die volgende twee weke beskikbaar nie, maar die park en restaurant is vir dagbesoekers oop.
|
|
|||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
| Kontak
ons | Navrae
| Teken in
op ons nuusbrief | Vrae
oor registrasie | Adverteer
| gebruikersooreenkoms
| |