|
|||||||||||
|
| VIND: |
![]() Suid-Kaap
De Krans se wyne blink uit ondanks swak weer, klein oes
03/09/2008 08:59:31 PM - (SA)
Oudtshoorn. - In die wynbedryf hou ’n mens nooit op leer nie, sê mnr. Boets Nel, mede-eienaar en wynmaker van De Krans-wynkelder wat vanjaar uitsonderlik uitgeblink het met hul wyne.
De Krans was nie net op die Klein-Karoo Jongwynskou en Suid-Kaap Markklaarwynskou die topkelder nie, maar het ook op die SA Jongwynskou presteer deur vier goue medaljes te wen.
Die wynskoue se uitslae is almal einde verlede maand bekend gemaak.
Die belangrike les wat Nel met vanjaar se druiwe-oes geleer het, is dat ’n mens ondanks ongunstige weer en ’n klein oes steeds goeie wyn kan maak as genoeg moeite in die wingerde gedoen word.
Die meer as 300 mm reën wat tussen middel November en middel Februarie geval het, sou normaalweg heelwat te veel wees vir ’n druiwe-oes wat geskik is vir die bereiding van goeie wyn.
Nel sê vanjaar moes hulle alles uithaal om goeie wyn te maak. “Ons het byvoorbeeld baie tyd en geld aan die wingerde bestee en moeite gedoen deur onder meer die onderste blare uit te breek om gesonde druiwe te verseker.”
Hy is baie trots daarop dat De Krans die eerste kelder in die Klein-Karoo is wat vier goue medaljes vir vier verskillende soorte wyne op die SA Jongwynskou kon behaal, naamlik chardonnay, merlot, port en wit muskadel.
Dit was ook die eerste keer dat De Krans in een jaar as kampioen- privaat kelder van die Klein-Karoo Jongwynskou en die kampioenkelder van die Suid-Kaap Markklaarwynskou aangewys is.
|
|
|||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
| Kontak
ons | Navrae
| Teken in
op ons nuusbrief | Vrae
oor registrasie | Adverteer
| gebruikersooreenkoms
| |