|
|||||||||
|
|
Stuur enige kommentaar, stories, foto's of wenke aan web@dieburger.com | ||||||||
| VIND: |
![]() Duane Strydom het gister by Londtpark in die Baai geoefen dat dit klap vir die komende Paralimpiese Spele in Beijing. Foto: WERNER HILLS
Oos-Kaap
Medalje-hoop lê nou by Paralimpiese Spele
21/08/2008 01:07:33 AM - (SA)
Port Elizabeth. - Hierdie keer soek hy die goue medalje by die Paralimpiese Spele, het Duane Strydom (39), ’n diskusgooier van die Baai, gister gesê.
En hy het ’n goeie kans – die huidige wêreldrekord staan immers agter sy naam én hy hét al ’n bronsmedalje by die vorige Spele in Athene gewen.
Met Suid-Afrika se Olimpiese span wat maar bra beroerd vaar in Beijing, plaas baie mense nou hul hoop op die SA Paralimpiese-span om beter te vaar.
Strydom is een van die gunstelinge om by dié Paralimpiese Spele, wat oor ’n rapsie meer as ’n week ook in Beijing begin, uit te blink.
“Ek moet net nie te veel druk op myself plaas nie, maar in hierdie stadium moet ek toegee, my voorbereiding verloop uitstekend,” het Strydom gesê. Sy wêreldrekord in die diskus vir die F36-klas is 36,08 m en hy gooi deesdae gereeld 37 m.
Op skool, by Bergsig in Uitenhage, het hy al in dié sportsoort uitgeblink. Toe was hy nog regshandig, maar dit het 20 jaar gelede verander. Hy is in 1988 in ’n fratsongeluk onder ’n vragmotor vasgekeer terwyl hy in die weermag in Springs was.
“Ná die ongeluk het alles aanvanklik weer orraait gegaan, maar so ’n jaar later het my lewe drasties verander,” vertel Strydom. Hy is in die hospitaal opgeneem met bloeding op die brein en moes daarna die lewe verlam aan die regterkant en met ’n effense spraakgebrek aanpak.
“Sport het my gehelp om weer aan die gang te kom en nou het ek al by ’n hele paar plekke in die wêreld deelgeneem,” het Strydom, ’n bestuurder by die Park-rugbyklub, gesê.
Vier jaar gelede het hy die bronsmedalje in Athene gewen nadat hy ook die gunsteling was om die goue te wen. “Toe het ek waardevolle ervaring opgedoen, veral oor hoe om my geestelik voor te berei,” het Strydom gesê.
Hy sien verskriklik uit na die Spele in Beijing, al gaan hy na sy vrou, Kim, en tweejarige dogtertjie, Kayla, verlang.
“Hulle sal my maar op televisie moet dophou,” het hy gesê voor hy nog ’n diskus met ’n brul die lug ingeslinger het.
|
|||||||||||||||||||||||||||
| Kontak
ons | Navrae
| Teken in
op ons nuusbrief | Vrae
oor registrasie | Adverteer
| gebruikersooreenkoms
| |