|
|||||||||
|
|
Stuur enige kommentaar, stories, foto's of wenke aan web@dieburger.com | ||||||||
| VIND: |
![]() Oos-Kaap
Sake bal vuis in Baai
20/08/2008 01:46:26 AM - (SA)
Port Elizabeth. - Misdaad sal nié in Port Elizabeth geduld word nie.
Dít is die duidelike boodskap wat die gemeenskap sal oordra wanneer hulle na verwagting in hul duisende op Saterdag 30 Augustus aan ’n optog in die stad gaan deelneem.
Dit is volgens Sakelui teen Misdaad (BAC) Oos-Kaap en die Port Elizabethse Streekkamer van Handel en Nywerheid (Percci), wat dié veldtog saam aanpak, die eerste stap om die gemeenskap in die volgehoue stryd teen misdaad te mobiliseer.
Verteenwoordigers van gemeenskaporganisasies, georganiseerde arbeid, die sakegemeenskap, regeringinstellings, asook politieke en godsdienstige leiers sal hul verbintenis tot die stryd teen misdaad deur hul openbare deelname betoon, het mnr. Bryan Howard, besturende direkteur van BAC Oos-Kaap, gister op ’n nuuskonferensie gesê.
Mnr. Odwa Mtati, uitvoerende hoof van Percci, sê hulle speel ’n belangrike rol in die veldtog omdat ’n veiliger omgewing noodsaaklik is om beleggers na Port Elizabeth te lok. “Misdaadbekamping is almal se verantwoordelikheid en die burgerlike samelewing móét deelneem.”
Luidens die jongste nasionale misdaadstatistieke het rooftogte by sakepersele in die Oos-Kaap van April 2007 tot Maart vanjaar meer as verdubbel.
Albei organisasies ontvang baie klagtes van sakeondernemings wat toenemend onder misdadigers deurloop en groot bedrae moet bestee om hul ondernemings te beveilig.
Percci beskou die BAC as dié instelling om inisiatiewe teen misdaad te koördineer sodat dié euwel vanuit ’n verenigde front bestry kan word. Optoggangers sal ’n belofte onderteken waardeur hulle hul verbind om:
- Misdaadvoorvalle te alle tye aan te meld;
- Misdaad in hul omgewing te bestry deur betrokkenheid by veiligheidforums;
- Te help bou aan ’n waarde-gesentreerde gemeenskap; en
- Die skep van ’n doeltreffende, geïntegreerde regstelsel te ondersteun.
Volgens Mtati lewer die georganiseerde sakegemeenskap nie net insette op beleidsvlak soos om die noodsaaklikheid van ’n forensiese laboratorium in die Oos-Kaap te bepleit nie. Hulle wil ook prakties bydra om die gemeenskap teen misdaad te mobiliseer.
Percci sal mense dus deurentyd bewus maak van veiligheidforums soos gemeenskapspolisieforums (GPF’s) of buurtwagte waarby hulle betrokke kan raak. Kontaknommers en besonderhede oor polisiekantore en GPF’s sal ook beskikbaar gestel word.
Mtati het benadruk dat dit nie ’n protesoptog teen enigiemand is nie, maar ’n geleentheid waardeur mense sal wys hulle het genoeg gehad van misdaad.
Die optog sal om 9:00 by St.
George’s Oval begin. Alle belangstellendes moet by die beginpunt bymekaarkom. Die optog sal tot by Markplein beweeg, waar die verskillende partye die beloftes sal onderteken.
|
|||||||||||||||||||||||||||
| Kontak
ons | Navrae
| Teken in
op ons nuusbrief | Vrae
oor registrasie | Adverteer
| gebruikersooreenkoms
| |