|
|||||||||||
|
| VIND: |
Derrick Menzi (17, voor) wys dat alles reg is en dat hy gereed is om op te styg. Sers. Koert Stynberg, vlugingenieur, het vir Derrick ’n bietjie oor die BK 117 vertel voor hul vlug. Foto: EWALD STANDER
Oos-Kaap
Kankerlyer opgewonde toe hy walvis uit heli gewaar
20/08/2008 01:37:03 AM - (SA)
Port Elizabeth. - ’n Ete by KFC was die verskoning wat Derrick Menzi (17) gekry het toe hy gister uit sy hospitaalkamer gelaat is vir ’n uitstappie, maar toe hy by die lugmag in die Baai aankom, was daar niks wat vir hom weggesteek kon word nie.
Derrick het limfklierkanker en is al ’n maand lank in die provinsiale hospitaal in die Baai.
Een van sy drome is om te vlieg. Die organisasie Reik na ’n Droom en me. Miranda Skelton van Remax(Bay)-eiendomme het dié droom ’n werklikheid vir hom gemaak.
Hy is verlede week ook verras met ’n Playstation 3, waarmee hy elke dag in sy hospitaalkamer speel. Maar niks kon sy glimlag wegsteek toe hy die helikopter sien nie.
“Ek is baie opgewonde. Baie,” het Derrick gesê terwyl sers. Koert Stynberg, die vlugingenieur, hom meer vertel het oor die BK 117-helikopter waarin hy sou vlieg.
Dié soort helikopter word vir seereddings en ander noodgevalle gebruik.
“Ek wou nog altyd vlieg en ek kan nie wag nie,” het Derrick opgewonde gesê.
Maj. Ben Arnold, vlieënier, het die veiligheidsmaatreëls saam met hom deurgegaan. Oomblikke later het hulle opgestyg.
Ewald Stander berig dat Derrick se glimlag nooit verdwyn het toe hulle in die lug was nie. Hy was baie opgewonde toe hy ’n walvis in die water onder hulle gewaar. Ná ’n spesiale versoek van Derrick het hulle ook oor sy huis in Bethelsdorp gevlieg waar sy suster, Sheila, gestaan en waai het.
“Dit was wonderlik!” het Derrick gesê nadat hul vlug langs die kus, oor die Van Staadensvallei en Bethelsdorp, tot ’n einde gekom het.
“Sulke drome wat deur mense ’n werklikheid gemaak word, is dalk net wat Derrick nodig het om elke dag te baklei om gesond te word,” het me. Inga Human, takbestuurder van die Baaise Reik na ’n Droom, gesê.
|
|
|||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
| Kontak
ons | Navrae
| Teken in
op ons nuusbrief | Vrae
oor registrasie | Adverteer
| gebruikersooreenkoms
| |