|
|||||||||||
|
| VIND: |
![]() Mnr. Sandile Goniwe
Oos-Kaap
Twee vermeende misdadigers ná agt maande steeds soek
16/08/2008 01:21:28 AM - (SA)
Port Elizabeth. – Die Oos-Kaapse polisie is ná agt maande steeds op soek na twee vermeende misdadigers wat in Desember verlede jaar by die Elliotdale-landdroshof ontsnap het.
Mnre. Sakhumzi Mvoko (23) en Sandile Goniwe (25), wat as hoogs gevaarlik bestempel word, is aangekla van onder meer moord, verkragting en gewapende roof. Hulle het ontsnap toe ’n vangwa hulle moes terugneem na die nabygeleë Wellington-gevangenis.
Veral Mvoko – of Sakhi, soos hy alom bekend staan – word beskou as een van die Oos-Kaap se mees gesoekte vermeende misdadigers, het supt. Sibongile Soci, ’n polisiewoordvoerder, gesê.
Hy, Goniwe en 11 van hul makkers wat na bewering deel was van ’n transito-roofbende is in Augustus verlede jaar aangekeer ná drie weke se intensiewe speurwerk en ’n jaagtog oor drie provinsies.
Supt. Leonie Verster, bevelvoerder van die polisie se eenheid teen georganiseerde misdaad in Mthatha, het toe bevestig die bende het tussen April en Julie verlede jaar vyf keer in die Mthatha-omgewing toegeslaan.
Die hulp van eenhede teen georganiseerde misdaad in die Baai, Oos-Londen en die provinsiale kantoor in Bhisho is ingeroep.
Ses lede van die nasionale intervensie-eenheid het ook hand bygesit.
Dir. Sally de Beer, nasionale polisiewoordvoerder, het toe gesê dat van die lede van die bende, onder andere Mvoko, ook positief verbind word met ander misdade regoor die land soos motorkapings, gewapende rooftogte en die besit van ongelisensieerde vuurwapens.
|
|
|||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
| Kontak
ons | Navrae
| Teken in
op ons nuusbrief | Vrae
oor registrasie | Adverteer
| gebruikersooreenkoms
| |