|
|||||||||
|
|
Stuur enige kommentaar, stories, foto's of wenke aan web@dieburger.com | ||||||||
| VIND: |
![]() Vroeër moes hulle ’n paar los stokke met mekaar deel, maar nou het hulle ’n hele gholfsak met alles wat daarby hoort om saam mee te kan speel. Van links is Eugene Smith, Cheslin Hendricks, McWilliam Adams, Matchell Jacobus, Ricardo Miggels, Arthur Afrik en Rayno Witbooi. Trevor Afrika, wat gehelp het met die planne vir hul eie gholfbaan, was nie by toe die foto geneem is nie. Foto: MARISKA SPOORMAKER
Oos-Kaap
Karoo-joggies glimlag breed
16/08/2008 01:18:39 AM - (SA)
Willowmore. - Dit was so goed een van hulle het ’n kolhou geslaan só het dié Karoodorp se nege joggies die vreugde van gholf gevier.
Voortaan gaan hulle vorentoe swaai, oumeneer-draai en hoog speel – want nou het hulle ysters, houte en alles, nogal in ’n spoggerige gholfsak. Dit sal gewis saamgedra word na hul eie negeputjie-baan wat hulle self op meentgrond langs die N9 uitgelê het.
Die groot opgewondenheid is te danke aan ’n leser van Die Burger (wat anoniem wil bly) wat sy hele gholfstel – balle, de lot – aan Willowmore se joggies geskenk het. Dit was nadat hy gelees het van die knape se passie vir gholf en eie gholfbaan en die drie houte, – een 8-, drie 6- en drie 9-ysters – wat hulle onderling moes deel.
Nou, as hul voorgee ontwikkel, sal die groot blou sak ook na Willowmore se amptelike gholfbaan gedra word. Daar sal die jong menere en ou menere mekaar dan die stryd aansê.
Mnr. Greg Korkee van die Primêre Skool Elmor het ’n boodskap van die vrygewige leser aan die seuns voorgelees: “Dit was lekker om die koerantberig te lees wat juf. Mariska van julle geskryf het. Dit is vir my ’n storie van vasbyt en droom. Goed gedoen, seuns – as julle op dié ouderdom so ’n eie gholfbaan kan maak, kan julle baie bereik. Die beroemde Gary Player het gesê: ‘ The more I practice, the luckier I get .’ Lekker speel met die stokke – miskien eindig een van julle op dieselfde baan as Ernie Els en Tiger Woods. Moet nóóit ophou droom nie – werk ook hard om sukses te behaal.”
Daarna is aan die seuns vertel dat die man wat die stel aan hulle geskenk het baie graag self sou wou speel, maar dat sy gesondheid dit nie meer toelaat nie.
Waarop Korkee toe amptelik aankondig: “Seuns! Elke Maandagoggend bring julle die hele stel skool toe – goed gebruik en goed opgepas!”
|
|||||||||||||||||||||||||||
| Kontak
ons | Navrae
| Teken in
op ons nuusbrief | Vrae
oor registrasie | Adverteer
| gebruikersooreenkoms
| |