|
|||||||||||
|
| VIND: |
In die droë aarde van die Baviaanskloof is daar teen alle verwagtinge ’n veenvleiland gevind. Foto: mariska spoormaker
Oos-Kaap
Veenland in die droogte
09/11/2008 11:26:37 PM - (SA)
Veenvleilande in die middel van die droë Baviaanskloof? Ongelooflik soos dit mag klink, is dit wel die geval, het verbaasde inwoners en wetenskaplikes verlede week gevind nadat toetse gedoen is oor hoe die loop van die Baviaanskloofrivier verbeter kan word. Die veenvleilande is op die plaas Rus en Vrede van mnr. Chris Lamprecht ontdek.
“Veenvleilande in die Baviaanskloof is net so ongewoon soos ’n vleiland in die kurkdroë Karoo,” het mnr. Japie Buckle, Oos-, Noord- en Wes-Kaapse direkteur van die projek Werk vir Vleilande, gesê.
“Ons kon ons oë nie glo toe ons op die veenvleiland afkom nie. Die veen lê omtrent 20 cm diep in die grond, met ’n 10 cm laag as bo-op. Die as wys die veen het baie jare lank gebrand,” het Buckle gesê.
Veen bestaan uit organiese materiaal soos riete, biesies, blare en mos wat stadig ophoop omdat permanente nat toestande in dié soort vleie veroorsaak dat plante nie deur vinnige oksidasie afgebreek word nie.
In 1981 was dié veenland volgens Buckle nog ’n gewone vleiland. Ná erge vloede daardie jaar het boere in die omgewing staatsubsidies gekry om vloedskade aan hul lande te herstel. Talle boere het toe sytakke van die Baviaanskloofrivier verlê om hul landerye te beskerm.
Weens dié verskuiwing het die watertafel van die Baviaanskloof oor die jare met meer as twee meter gesak en die grond in die gebied, waaronder die veen in die vleiland, het ook uitgedroog.
Gevolglik is dié ongewone veenvleiland die meeste van sy uitstekende kenmerke kwyt. Gewoonlik is veenvleilande sponsagtig en kan 100 liter veen geleidelik sowat 900 liter water in droogtetye vrystel.
Omdat die veenvleiland in die Baviaanskloof só uitgedroog is, sal streng beplanning nou nodig wees om te kyk hoe – indien wel – dié veenvleiland gered kan word.
In die kloof self gons dit oor die veenvleiland wat in dié oorwegend droë aarde gevind is. Mev. Magriet Kruger van die plaas Zandvlakte, wat langs Rus en Vrede geleë is, het gesê die “veenvleiland dien as ’n bewys daar was baie jare gelede baie water in die Baviaanskloof.”
Lamprecht kon gister nie vir kommentaar bereik word nie.
|
|
|||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
| Kontak
ons | Navrae
| Teken in
op ons nuusbrief | Vrae
oor registrasie | Adverteer
| gebruikersooreenkoms
| |