|
|||||||||
|
|
Stuur enige kommentaar, stories, foto's of wenke aan web@dieburger.com | ||||||||
| VIND: |
![]() Suid-Afrika se handfietsryer Ernst van Dyk is ekstaties ná sy sege in die wedren oor 48.4. Dit was sy eerste goue medalje by ’n Paralimpiese Spele. Foto: GALLO IMAGES
Sport
Aanhouer Ernst wen uiteindelik goud
14/09/2008 07:22:14 PM - (SA)
Aanhouers wen.
Ernst van Dyk het dít gister hier op die Paralimpiese Spele bewys toe hy die handfietswedren oor 48.4 km gewen het.
’n Mens sou dink dat Van Dyk nie meer te opgewonde oor ’n oorwinning sou raak nie nie. Hy het die Boston-rolstoelmarathon immers al sewe keer gewen.
Maar dit was glad nie die geval nie.
“Ek het 16 jaar lank vir ’n goue medalje gewerk en dit is beslis die hoogtepunt van my sportloopbaan,” het Van Dyk gesê.
“Vanaand (gisteraand) is ek en my spanmaats gereed om Beijing op horings te neem.
“Dit is my eerste goue medalje by ’n Spele en ek het alles probeer. Ek het geswem en gehardloop, maar ’n goue medalje het my nog altyd ontwyk. Nou het ek iets om te vier, en ek gaan dit vier.”
Gister se fietswedren was ’n riller, want minder as ’n sekonde het die eerste drie jaers geskei.
Van Dyk het die wedren in 1:21:40 gewen. Alejandro Albor van die VSA was tweede in 1:21:41 en Oz Sanchez, ook van die VSA, derde met dieselfde tyd.
Van Dyk het gesê hy het vooraf geweet dat hy slim moes ry om die twee Amerikaners te klop.
“Daarom het ek van die begin af hard gery. Die roete, met sy draaie en klimme, was my grootste bondgenoot. Ek het elke keer versnel wanneer daar ’n draai was, want dan kon die Amerikaners my nie sien nie.
“Ek het hulle stelselmatig moeg gemaak en het geweet dat die laaste draai die beslissende een sou wees. Dit was smal en daar was geen manier dat drie jaers saam deur dié draai kon jaag nie. Die ou wat eerste deur dié draai is, sou die wedren wen.
“Ek die pap dik aangemaak. Dit was nogal “scary”, want ek is op twee wiele deur die draai, Albor ook. Sanchez se fiets kon nie so vinnig skerp draai nie en hy was agter ons.”
Albor het gesê Van Dyk het hom gestamp en van die baan gedruk.
“Dit het teen my getel en daar was nie genoeg tyd om Van Dyk weer in te haal nie.”
Volgens Sanches was hy om die laaste draai bekommerd dat sy fiets se wiel Van Dyk s’n sou tref.
“Toe ons in die draai was, het my fiets se ketting afgegly en vir ’n oomblik het ek beheer verloor. Gelukkig het ek Van Dyk nie gestamp nie. Toe my fiets se wiel grond raak, het die ketting teruggespring,” het Sanchez gesê.
|
|||||||||||||||||||||||||||
| Kontak
ons | Navrae
| Teken in
op ons nuusbrief | Vrae
oor registrasie | Adverteer
| gebruikersooreenkoms
| |