|
|||||||||
|
|
Stuur enige kommentaar, stories, foto's of wenke aan web@dieburger.com | ||||||||
Sport
Smith vererger dyspierbesering
30/05/2008 09:57:04 PM - (SA)
KAAPSTAD. – Mickey Arthur, die Proteas se afrigter, sal duim vashou dat sy span se krieketkaptein, Graeme Smith, op 10 Julie reg sal wees vir die eerste toets teen Engeland.
Smith het gisteraand ’n dyspierbesering vererger in die eerste halfeindstryd van die Indiese Premierliga hier in die Whankede-stadion.
Smith se Rajasthan Royals het eerste gekolf teen die Delhi Daredevils en het 192/9 aangeteken in hul 20 boulbeurte.
Die Dardevils het van die begin van hul beurt kleigetrap en is uiteindelik vir ’n skamele 87 uitgeboul. Die Royals het met 105 lopies gewen.
Smith het die Royals se laaste twee wedstryde weens ’n dyspierbesering misgeloop, maar is voor die halfeind fiks verklaar.
Hy het egter met die laaste bal van die tweede boulbeurt dié besering vererger en moes die res van sy beurt deur ’n hardloper gehelp word. Hy sou vandag vir ’n skandering gegaan het, maar hy glo hy sal twee weke buite aksie wees.
Arthur het gisteraand aan Die Burger gesê hy sal vanoggend met Smith praat om die besonderhede uit te vind.
“Dit is egter waar dat ek my naels sal kou tot ek weet hoe erg dit is,” het Arthur gesê.
Smith (25) en sy aanvangsmaat Swapnil Adsnokar het 65 lopies om die eerste paaltjie gespeel om ’n uitstekende platform vir die Royals op te stel.
Die Aussie Shane Watson en Yusuf Pathan het op die basis gebou en gehelp om ’n indrukwekkende teiken op te stel.
Die Daredevils se beurt het sommer vroeg al skipbreuk gely met hul gevaarman Virender Sehwag wat in die 2de beurt sy paaltjie verloor het.
Toe die Daredevils hul 4de paaltjie (28/4) in die 7de beurt verloor het, was die koeël deur die kerk. – Altus Momberg
|
||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
| Kontak
ons | Navrae
| Teken in
op ons nuusbrief | Vrae
oor registrasie | Adverteer
| gebruikersooreenkoms
| |