|
||||||||
|
|
Stuur enige kommentaar, stories, foto's of wenke aan web@dieburger.com | |||||||
![]() Bykans ’n dekade nadat Bob Skinstad (links) en sy manne in swart die Kaapse rugbyondersteuners aan die gons gehad het met hul skouspelagtige rugby, het die klas van 2008, onder leiding van Jean de Villiers, Nuweland weer op ’n Saterdag die gewildste bestemming in Kaapstad gemaak. Foto’s: GALLO IMAGES
Sport
Stormers kry Skinstad-steun
08/05/2008 09:50:24 PM - (SA)
KAAPSTAD. – Bob Skinstad, een van die Stormers se ikone van 1999, is uiters beïndruk deur die klas van 2008 en sal môre hier op Nuweland wees om hulle aan te spoor in hul belangrike Super14-rugbywedstryd teen die Waratahs.
“Natuurlik dink ek hulle kan die Waratahs klop,” het Skinstad gister aan Die Burger gesê.
“Ek staan bankvas agter hulle om dit te doen en hoop hulle haal die halfeindronde. Ek dink werklik hulle verdien dit.”
Skinstad, wat ná verlede jaar se Wêreldbeker-toernooi uitgetree het, het gesê hy het seisoenkaartjies vir Nuweland gekoop en word ook soms na losies genooi. Hy het dus verskeie van die Stormers se wedstryde bygewoon.
“Daar is vanjaar ’n groot verbetering by die Stormers. Hulle lyk skerp op sowel die aanval as die verdediging,” het Skinstad gesê.
“Wat ek werklik van hou, is dat hulle onvoorspelbaar is. Dis ’n tradisionele sterk punt van rugby in die Westelike Provinsie, waarvoor ander spanne sukkel om ’n antwoord te kry.
“’n Mens kan sien Rassie Erasmus (hoofafrigter van die Stormers) het ’n plan in elke beweging wat op die veld uitgevoer word.”
Skinstad het op sy dag die Stormers se nr.7- en 8-truie gedra.
Hy het verkies om agtsteman te speel. Wat die Stormers se huidige lostrio betref, is dit vir hom duidelik dat die spelers tussen posisies kan rondskuif.
“Hierdie is multi-talentvolle spelers. Die manier waarop hulle saamwerk, is briljant.”
Op ’n vraag of dié span dieselfde hoogtes as die een van 1999 (wat in ’n tuis-halfeindstryd gespeel het) kan bereik, het Skinstad gesê: “1999 behoort tot die verlede. Hierdie span kan sy eie doelwitte stel en nuwe hoogtes vir die Stormers bereik.
“Dit sal wonderlik wees as ons kan aanbeweeg van 1999 af.”
Skinstad was kaptein van daardie span onder Alan Solomons se afrigting. Hy het egter in die loop van die 1999-seisoen sy knie in ’n motorongeluk beseer.
Tot op daardie tydstip het hy hom feitlik in elke wedstryd met sy individuele briljantheid as spelbreker onderskei.
Die Stormers se kanse om soos die span van 1999 ’n halfeindstryd op Nuweland los te slaan, sal môre bepaal word. Hulle sal nog nie heeltemal seker daarvan wees as hulle wen nie, maar dit sal wel die Stormers se laaste wedstryd vanjaar op hul tuisveld wees indien hulle verloor.
Die Waratahs is tweede op die Super14-puntelys en twee punte voor die Stormers. As dié Australiese span wen, sal hy buite die Stormers se bereik wees, met die Kapenaars wat hierna nog slegs een wedstryd teen die Lions op Ellispark moet speel.
Die top-vier kwalifiseer vir halfeindronde, met die spanne wat eerste en tweede eindig wat tuisveldvoordeel sal geniet. Die Stormers is onder die spanne wat vir tweede plek mik, met die Crusaders van Nieu-Seeland wat die wegholvoorlopers in die eerste plek is.
|
||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
| Kontak
ons | Navrae
| Teken in
op ons nuusbrief | Vrae
oor registrasie | Adverteer
| gebruikersooreenkoms
| |