|
||||||||
|
|
Stuur enige kommentaar, stories, foto's of wenke aan web@dieburger.com | |||||||
Sport
Krieket se beskermheer gee boulers weer rede om te glimlag
08/05/2008 08:49:46 PM - (SA)
KAAPSTAD. – Daar is uiteindelik hoop vir krieket se lankmoedige boulers.
Die Marylebone Krieketklub (MCC), die tradisionele beskermheer van dié sport en sy reëls, het gister aangekondig dat daar streng nuwe riglyne vir krieketkolwe gaan wees.
Boulers het die laaste klompie jare kwaai deurgeloop. Die koms van blitskrieket en veral die tegnologiese vooruitgang van moderne kolwe het krieket by uitstek ’n spel vir kolwers gemaak.
Terwyl boulers oor die kole gehaal word vir balpeutery, het kolftegnologie met rasse skrede verbeter.
Dié reëlverandering sal verseker dat kolfstele slegs uit rottang, hout, tou en rubber mag bestaan.
Dit volg nadat kolfvervaardigers die laaste paar jaar begin het om materiaal soos grafiet en titanium te gebruik om die kolfstele sterker en kragtiger te maak.
Die MCC se hoof van krieketsake, John Stephenson, het in ’n verklaring gesê die nuwe reëls is deur 98.6% van hul lede goedgekeur.
“Dit is om die balans tussen die bal en die kolf te handhaaf. As die een die ander oorheers, word die spel voorspelbaar. Minder mense sal geniet om dit te speel en te kyk,” het Stephenson gesê.
“Spelers is deesdae groter, fikser en sterker as ooit te vore, wat beteken dat hulle die bal verder as ooit kan slaan. As die kolwe hulle dan ook nog te veel help, gaan die balans tussen bal en kolf heeltemal verloor word.”
Die nuwe reëls bepaal ook dat die lengte van die steel nie meer as 52% van die totale lengte van die kolf mag wees nie. Die nuwe reël sal op 1 Oktober vanjaar in werking tree.
Mick Bellingham van die Suid-Afrikaanse vervaardiger B&S het gister gesê dis hoog tyd dat die MCC ingryp.
“Ons glo al ’n geruime tyd dat spelers met onwettige kolwe speel. Nie een van die kolwers wat ons borg, speel egter met onwettige kolwe nie,” het die vervaardiger gesê.
Bellingham het egter bygevoeg die stele maak nie regtig ’n groot verskil nie. “Dis meer bemarkingsfoefies as iets anders,” het hy gesê.
Bellingham het egter gesê hy verwag nie dat die nuwe reël ’n dramatiese verskil gaan maak nie.
“Internasionale kolwers is deesdae ongelooflik kieskeurig oor die hout wat gebruik word in hul kolwe. Die wilgerlatte is ongelooflik dik en lig en dit help om die bal baie ver te moker,” het Bellingham gesê.
. Intussen is Shaun Pollock aangestel as lid van die MCC se wêreldkrieketkomitee.
Pollock is een van 18 lede van die komitee, meestal oud-spelers. Die voormalige aanvangskolwer Barry Richards is die enigste ander Suid-Afrikaner op dié spogkomitee.
|
||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
| Kontak
ons | Navrae
| Teken in
op ons nuusbrief | Vrae
oor registrasie | Adverteer
| gebruikersooreenkoms
| |