|
||||||||
|
|
Stuur enige kommentaar, stories, foto's of wenke aan web@dieburger.com | |||||||
![]() Michelle Eray (voor) en haar spanmaat, Nikki Mocke, wat reeds vir die Olimpiese Spele in die K4-nommer gekwalifiseer het, sal díe naweek in die Westelike Provinsie se proewe hul slag in die dubbelkano wil wys. Foto: ANTHONY GROTE
Sport
WP-roeiers gaan die spane laat werk
08/05/2008 08:48:44 PM - (SA)
KAAPSTAD. – Plaaslike roeiers gaan dié naweek alles in die stryd werp om die kanospan van die Westelike Provinsie te haal wat later vandeesmaand aan die Suid-Afrikaanse kanomarathon-byeenkoms in Witbank gaan deelneem.
Die aksie, wat by Zandvlei, Lakeside en Marina da Gama gaan plaasvind, dien as proewe vir die WP-span.
Die SA byeenkoms vind op 24 en 25 Mei plaas. By dié byeenkoms gaan daar ’n span gekies word vir die Wêreld-marathon-byeenkoms, wat van 17 tot 21 September in die Tsjeggiese Republiek gehou word.
Môre gaan daar in die junior en meestersafdeling in die K1 (enkelkano) oor ’n afstand van 22 km meegeding word. Daar gaan minstens twee oordradrapunte op die roete wees waar die deelnemers hul kano’s sal moet dra.
Die senior vroue gaan aan die wedvaart oor 28 km (met drie oorgangspunte) deelneem, terwyl die senior mans 35 km gaan roei waar hulle altesame vier oordrapunte sal moet trotseer.
Die roeiers kan hul kano’s oor ’n maksimum afstand van 80 m dra. Die deelnemers met die beste vaardighede by die oordrapunte gaan ’n groot voordeel bo die ander roeiers geniet.
Sondag kom die roeiers in die dubbelkano’s (K2) aan die beurt.
Dit is nog vroeg in die seisoen en al die roeiers het nog nie hul beste peil bereik nie. Die o.21-roeiers Lance King en sy spanmaat Gavin White van Milnerton gaan in ’n hewige stryd met die ervare Graeme Solomon en Ian Trautmann gewikkel wees.
Heinrich Schloms van Stellenbosch en Ernest van Riet, Pierre en André Rabie, Christie Albertyn, Cornelius Human, Donnie Malherbe en Paul Marais van die Paarl sowel as Peter en Rory Cole gaan almal in aksie wees.
Baie van die roeiers gaan die wedvaarte as slypsessies gebruik vir die Molokai-seeroeiwedvaart wat oor twee weke in Hawaii gehou word.
Onder die vroue sal bekende roeiers soos Nikki Mocke en haar Olimpiese spanmaat, Michelle Eray, ook hul slag in die dubbelkano wil wys. Dié twee gaan in ’n opdraande stryd met Alexa Lombard-Cole en Abbey Miedema gewikkel wees.
Benewens dié vier ervare roeiers, sal belowende jonges soos Bianca Beavitt, Jackie Barnes en Nikki Fischer ook hul staal wil wys.
|
||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
| Kontak
ons | Navrae
| Teken in
op ons nuusbrief | Vrae
oor registrasie | Adverteer
| gebruikersooreenkoms
| |