|
||||||||
|
|
Stuur enige kommentaar, stories, foto's of wenke aan web@dieburger.com | |||||||
![]() Die winter en sy woeste branders is hier. Dít was duidelik toe Jason Ribbink en ’n paar ander grootbrander-jagters Woensdag Dungeons (naby Houtbaai) aangedurf het. Foto’s: NIC BOTHMA, EPA
Sport
Dink twee keer voor jy J-Bay toe jaag
08/05/2008 09:03:22 PM - (SA)
DIE week het goed afgesit vir surfers met ’n pragtige, skoon suidwes-swell wat Maandag ingerol gekom het.
Dit het deur die dag groter geword, dit was windstil en oral oor die Skiereiland het surfspots begin lewe kry.
Maar teen Dinsdagoggend het die wind stormsterkte bereik, die see monsteragtig groot geword en elke man en sy hond het die pad gevat J-Bay toe.
Terwyl Supertubes in J-Bay dalk die beste regterhand-pointbreak in die land is, het dié plek beslis ’n plafon wat betref die hoeveelheid surfers wat daar kan uitpaddle voordat die wave disfunksioneel raak.
In tye soos dié, wanneer alle voorspellings op die internet dui op epiese J-Bay-toestande, is dit soms wys om na ander spots te kyk wat in dieselfde toestande werk, maar minder surfers lok.
Glo my, daar is volop ander pointbreaks aan die ooskus wat ook gaan kook wanneer J-Bay aan die brand is.
Vir dié van julle wat in Jan Tuisbly se karretjie moet ry, lyk dit of die naweek deur ’n sterk noordwestewind, wat gepaardgaan met stewige suidweste swell, gekenmerk sal word.
Aan die KwaZulu-Natalse kus, het ’n unieke kompetisie vir die land se voorste junior surfers – die Billabong Challenge – onlangs plaasgevind.
Dit het oor vyf dae (by verskillende spots) geskied en het basies behels dat die ouens hulle alies af surf, agterna na videomateriaal daarvan kyk en op grond daarvan pryse aan mekaar uitdeel vir die beste vertonings.
Al dié materiaal is aanlyn by www.zigzag.co.za beskikbaar. Daar is ’n paar ongelooflike videogrepe, onder meer een van die jong Chad du Toit wat ’n volmaakte Kerrupt Flip uitvoer.
Vir dié wat nie weet nie – ’n Kerrupt Flip vereis dat jy ’n volle rotasie mét ’n grab doen.
In Durban, te midde van Blouvlag-omstredenheid en onwelriekende, riool-besoedelde strande, lê nóg ’n kompetisie voor.
Dié keer is dit die Lizzard Nando’s Surf Pro.
Die hoofbyeenkoms het ’n eenster-WQS-gradering en altesame R121 500 se prysgeld is op die spel.
Davey Weare, wat die wêreld deesdae aan die brand surf, sal die groot gunsteling vir die eerste prys wees.
Hy het dié byeenkoms al twee keer vantevore gewen en mik na sy driekuns of hat trick, soos hulle in Engels sê.
Dié term het sy ontstaan in krieket gehad, waar ’n nuwe hoed vroeër jare aan ’n bouler oorhandig is wat drie paaltjies met agtereenvolgende aflewerings laat kantel het.
Aan die ander kant van die wêreld, in Tahiti om presies te wees, neem ons WCT-helde aan die Billabong Pro Tahiti deel.
Dis natuurlik die tuiste van die gevreesde Teahupoo, ’n plek waar talle surfers al gesterf het.
Al die skouspelagtige aksie kan op die web dopgehou word. Gaan aanlyn na die webwerf www.aspworldtour.com en soek die Billabong Pro Tahiti-skakel.
Vir dié van julle wat gedink het julle gaan my die naweek iewers aan die Overbergse kus in die water in aksie sien, het ek slegte nuus.
Ek is op pad Mauritius toe om bietjie uit te span en te surf.
Hopelik sal die groot swell wat tans die ooskus slaan, ook oor die perfekte klein riwwe van Le Morne spoel.
Dus skryf ek volgende week se rubriek vanuit Mauritius – tensy die surf te goed is en ek nie tyd kry om voor ’n rekenaar in te skuif nie!
|
||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
| Kontak
ons | Navrae
| Teken in
op ons nuusbrief | Vrae
oor registrasie | Adverteer
| gebruikersooreenkoms
| |