|
|||||||||||
|
![]() Dit was duidelik by gister se oefening in Durbanville dat die Stormers se afrigter, Rassie Erasmus (links), en die kaptein, Jean de Villiers, hul staal vir ’n groot aanslag van die Waratahs in Saterdag se Super14-rugbywedstryd op Nuweland. Foto: FRANCOIS NEL
Sport
Jean wil tiener teiken
KAAPSTAD. – Die Stormers se kaptein, Jean de Villiers, het gister twyfel in die gemoed van die Waratahs se onervare senterpaar, Tom Carter en Rob Horne, probeer saai voor Saterdag se Super14-rugbywedstryd op Nuweland.
Horne (18) was verlede jaar nog op skool, terwyl Carter (24) self vir die eerste keer vanjaar op hierdie vlak speel. Indien hulle weer vandeesweek gekies word, sal De Villiers en sy sentermaat, Gcobani Bobo, dié twee groentjies beslis met aanvalle in die middelveld toets.
“Ek dink nie ’n mens neem ouderdom in ag nie. Soms is daar egter ’n sielkundige uitdaging wat hierdie kompetisie jou bied. As jy jonk is, kan dit moeilik wees om week ná week sielkundig skerp te wees,” het De Villiers gesê.
“Ek sal vir hom (Horne) ’n paar dinge sê en kyk hoe hy reageer. Hy’s egter ’n goeie speler. Ek’s nie seker of hy gaan speel nie, maar sien uit na die uitdaging.
“Jy kan ’n jong speler wees wat wegskram van die uitdaging, of jy kan die geleentheid aangryp. Ek onderskat geen teenstander nie.”
Die Waratahs kondig vandag hul span aan en daar is sprake dat die Wallaby-vleuel Lote Tuqiri op heelagter kan uitdraf.
Hulle is ten spyte van verlede naweek se nederlaag teen die Bulls tweede op die puntelys. Die Stormers kan hulle egter verbysteek as hulle wen.
“ ’n Mens moet sielkundig ingestel wees. Jy weet nie hoe sterk hulle sielkundig is nie. Dit (die jeug in die Waratahs se agterlyn) kan ’n negatiewe of positiewe effek op die Waratahs hê,” het De Villiers gesê.
“Soms bring daardie jong ouens soveel energie na die groep toe dat dit die hele span se werketiek opskerp.
“Dit kan albei kante toe gaan. Ons sal kyk hoeveel negatiewe punte ons kan vind, en dit uitbuit.
“Ek dink die Waratahs is ’n baie goed afgeronde span met groot baldraers en goeie vaste fasette. Dis moeilik om ’n swak plek te vind.
“Ons het egter ’n paar idees, en hopelik kan ons fokus op wat ons tot op hede goed gedoen het, en dit oordra na Saterdag toe.”
Die Stormers-span is onveranderd gelaat van die een wat die Brumbies met 20-10 geklop het.
Rassie Erasmus, afrigter van die Stormers, hoop sy span kan vandeesweek sy kanse benut om ’n belangrike oorwinning oor die Waratahs te behaal.
“Ons het in die eerste helfte teen die Brumbies twee geleenthede gehad (om drieë te druk) en albei benut. In die tweede helfte het ons vier geleenthede gehad, en nie een gebruik nie,” het Erasmus gesê.
Die vaskopstut Brian Mujati was gister grieperig en die plaasvervanger-losskakel Tony Brown het las van sy lieste. Albei behoort egter reg te wees om te speel.
“Dit was lekker om dieselfde span te kon kies. Hopelik speel die ouens lekker saam,” het Erasmus gesê.
Die Stormers-span is: Conrad Jantjes, Wylie Human, Gcobani Bobo, Jean de Villiers (k), Sireli Naqelevuki, Peter Grant, Ricky Januarie, Robbie Diack, Francois Louw, Luke Watson, Andries Bekker, Adriaan Fondse, Brock Harris, Schalk Brits, Brian Mujati. PLAASVERVANGERS: Deon Fourie, Schalk Ferreira, Ross Skeate, Pieter Myburgh, Bolla Conradie, Tony Brown, Dylan des Fountain.
|
|
|||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
| Kontak
ons | Navrae
| Teken in
op ons nuusbrief | Vrae
oor registrasie | Adverteer
| gebruikersooreenkoms
| |