|
||||||||
|
|
Stuur enige kommentaar, stories, foto's of wenke aan web@dieburger.com | |||||||
![]() Spanje se Rafael Nadal (agter) nadat hy gister sy landgenoot David Ferrer (voor) in die eindstryd van die toernooi in Barcelona geklop het. Dit was Nadal se tweede toernooi-sege van die jaar. Foto: Manu Fernandez, ap
Sport
Rafael Nadal bly op die wenpad
04/05/2008 10:04:44 PM - (SA)
BARCELONA. – Rafael Nadal het gister die kleibaan-tennistoernooi hier gewen en die voortou in vanjaar se kampioenskapswedloop geneem.
Die wêreld se naasbeste speler het sy Spaanse landgenoot David Ferrer in die eindstryd met 6-1, 4-6 en 6-1 geklop en só sy vierde agtereenvolgende Barcelona-titel gewen.
Nadal se wen-verloor-rekord in dié toernooi is nou 21-1. Sy laaste nederlaag hier was in 2003, toe hy in sy debuut in die tweede ronde teen Alex Corretja vasgeval het.
Nadal het 103 van sy laaste 104 kleibaanwedstryde gewen. Dié segetog het in 2005 in Monte Carlo begin.
Die 21-jarige Nadal neem die eerste plek in die kampioenskapswedloop oor by Serwië se Novak Djokovic, wat vanjaar reeds die Australiese Ope gewen het.
Nadal se aanslag op ’n vierde agtereenvolgende Meesterstitel in Rome het ’n vroeë hupstoot gekry. Die Spanjaard het ’n effe makliker loting as dié van Roger Federer ontvang.
Die toernooi begin vandag.
Op Nadal se pad na die eindstryd sal hy moontlik die wêreld se nommer agt, James Blake, in die kwarteindronde ontmoet en Rusland se Nikolay Davydenko in die halfeindronde.
Hierteenoor kan Federer in die kwarteind teen Ferrer te staan kom, met Djokovic of David Nalbandian wat moontlik in die halfeind op hom wag.
Ná ’n moeilike begin tot die seisoen het Nadal op heel voorspelbare wyse sy peil op die kleibane van Europa herwin.
Verlede maand het die driemalige verdedigende Franse Ope-kampioen vir Federer geklop en die eerste speler in 90 jaar geword wat die Meesterstoernooi in Monte Carlo vier keer agtereenvolgens wen.
Nou is sy visier daarop ingestel om die eerste persoon te word wat die toernooi in Rome vier keer in ’n ry wen voor die tweede Grand Slam-toernooi van die jaar op 25 Mei op Roland Garros in Parys begin.
Federer, ’n finalis in 2003 en 2006, is op soek na sy eerste titel in Rome.
Indien hy Nadal se onoorwonne tog in dié toernooi tot ’n einde kan bring, sal dit ook die perfekte voorbereiding vir die Franse Ope wees. Dit is die enigste Grand Slam-titel wat Federer nog ontbreek.
|
||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
| Kontak
ons | Navrae
| Teken in
op ons nuusbrief | Vrae
oor registrasie | Adverteer
| gebruikersooreenkoms
| |