|
|||||||||||
|
Sport
Proteas het dié keer hef in hand, glo Smith
10/04/2008 10:20:40 PM - (SA)
KANPUR. – Baie water het in die see geloop sedert Graeme Smith sy Suid-Afrikaanse krieketspan laas hier op Green Park gelei het.
Die Proteas pak Indië van vandag hier in die derde en beslissende toets. Hulle loop met 1-0 voor in die reeks.
In 2004 was Smith se span nie die geoliede masjien wat sy laaste sewe reekse gewen het nie.
Die reeks van twee toetse tussen Suid-Afrika en Indië het destyds in dié erg besoedelde stad begin en was toevallig ook die laaste toets wat op Green Park gespeel is.
Dié toets sal eerder onthou word vir die 163 lopies wat Andrew Hall aangeteken het, as vir die vervelige onbesliste uitslag.
Benewens Hall wat uit posisie gekolf het, het die veelsydige Zander de Bruyn en Thami Tsolekile (paaltjiewagter) hul buiging vir Suid-Afrika gemaak. Die linksdraaier Robin Peterson was ook nie Suid-Afrika se eerste keuse as draaier nie.
Peterson en Hall het Herschelle Gibbs en Nicky Bojé onderskeidelik vervang.
Hulle wou nie na Indië toer nie, omdat die polisie nie hul veiligheid kon verseker nie weens hul beweerde betrokkenheid by wedstrydknoeiery.
Ray Jennings, wat toe pas as tussentydse afrigter aangestel is, se proefneming met Hall het dividende betaal.
Sy beurt het die besoekers in staat gestel om langer as twee dae in hul eerste beurt te kolf om die weg te baan vir die onbesliste uitslag.
Van die 19 toetse wat al hier gespeel is, het ’n volle 12 onbeslis geëindig. Indië was nog net 4 keer hier aan die wenkant.
“In 2004 het ons heelwat risiko’s geloop met ons spankeuse, omdat ons nie regtig ’n span gehad het wat al saamgesnoer was nie,” het Smith gesê.
“Daar was baie spelers in daardie span wat eerder op die randjie van insluiting was as wat hulle gereelde lede van die span was.
“Hierdie keer is ons ’n hegte span wat al ’n tydjie saam speel en die hef in die hand het.”
In 1996 het Kanpur ook die beslissende wedstryd in die reeks van drie toetse tussen en Suid-Afrika en Indië gehuisves. Hansie Cronjé se span het toe die knie met 280 lopies gebuig.
Die linkerhandse draaier Paul Adams het 6/55 in Indië se eerste beurt geneem en die wedstryd was nog redelik op ’n mespunt gebalanseer toe Mohammad Azharrudin die reeks op sy kop gedraai het.
Dié Indiese kaptein het ’n onoorwonne 163 gemoker om aan die Suid-Afrikaners die taak te stel om 461 lopies aan te teken om die reeks te wen.
Die Proteas is vir 180 uitgeboender.
|
|
|||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
| Kontak
ons | Navrae
| Teken in
op ons nuusbrief | Vrae
oor registrasie | Adverteer
| gebruikersooreenkoms
| |