|
||||||||
|
|
Stuur enige kommentaar, stories, foto's of wenke aan web@dieburger.com | |||||||
![]() Wicus Blaauw Foto: GALLO IMAGES
Sport
Stormers-stut gee lugboef ‘taai klap’
24/03/2008 10:13:21 PM - (SA)
KAAPSTAD. – By die Stormers het niemand ’n laer profiel as Wicus Blaauw nie, maar dié jong loskopstut het Sondag sterk op die voorgrond getree deur ’n oproerige passasier op ’n vlug tussen Sydney en Perth ’n “taai klap” te gee.
Volgens Frikkie Erasmus, kommersiële bestuurder van die Stormers, was die passasier onder die invloed van alkohol en het hy gedreig om handuit te ruk.
“Brendan Venter (konsultant) het eers gepoog om die persoon op ’n mooi manier onder beheer te kry. Hy het egter weer begin en van die spelers is (deur die bemanning) gevra om hand by te sit,” het Erasmus gesê.
Volgens Erasmus het die passasier op Blaauw en ander mense om hom gevloek.
“Wicus het hom met ’n taai klap heeltemal op sy plek gesit. Daarna was daar geen probleme nie. Dit was heel komies. Die passasier was baie aggressief en het baie erg opgetree. Die bemanning was baie ingenome met Wicus se optrede.”
Die polisie van Perth het die oproerige passasier kom haal nadat die vliegtuig geland het. Daar is ook verklarings by spelers op die vliegtuig afgeneem. “Hulle het dankie gesê vir die hulp wat verleen is,” het Erasmus gesê.
Die Stormers moes op aparte vlugte Perth toe reis. Blaauw (21) was in die groep wat nie vandeesweek teen die Western Force by die Subiaco Oval in Perth sal speel nie.
Dié Namibiese boorling het hom verlede jaar van die Luiperds af by die Westelike Provinsie aangesluit. Hy het Namibië al op 0.19-vlak verteenwoordig en was in 2005 lid van die SA o.19-groep.
Die Stormers speel Vrydag ’n belangrike wedstryd teen die Force. Hoewel die Stormers tot dusver ’n suksesvolle toer het, met twee oorwinnings uit drie wedstryde, is hulle onder druk om weer op die wenpad te kom ná Saterdag se naelskraapse nederlaag met 14-17 teen die Blues in Auckland.
Onder gewone omstandighede sou die toer reeds as ’n sukses beskou word, maar die Stormers moet vergoed vir die drie agtereenvolgende nederlae wat hulle vóór die toer gely het.
Die Force sal egter op sy tuisveld vandeesweek die gunsteling wees. Dié Australiese span word afgerig deur die voormalige All Black-breier John Mitchell, en het sterre soos die losskakel Mat Giteau en die slot Nathan Sharpe in sy midde.
|
||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
| Kontak
ons | Navrae
| Teken in
op ons nuusbrief | Vrae
oor registrasie | Adverteer
| gebruikersooreenkoms
| |