|
|||||||||
|
|
Stuur enige kommentaar, stories, foto's of wenke aan web@dieburger.com | ||||||||
Super14
Sharks torring nie aan gewoontes
14/05/2008 10:55:00 AM - (SA)
JOHANNESBURG. – Die stertkant van die Super14-reeks is kwalik die tyd om ou honde aan nuwighede bloot te stel, en die Sharks gaan gewis nie nou onverkende terrein voor hul wedstryd Saterdag teen die Chiefs probeer betree nie.
Om die waarheid te sê, is die Sharks volgens hul hulpafrigter, Grant Bashford, terdeë daarvan bewus dat daar nie nou aan spanne of hul gewoontes getorring kan word nie.
Bashford glo dit is nou in elk geval net ’n kwessie van oorlewing.
“In die laaste paar weke gaan dit maar daaroor hoe skerp jy die spelers kan hou.
“Ná 12 weke in die reeks is die spelers taamlik tam en ’n mens moet oppas dat jy hulle nie verder uitput nie.
“Die geestelike ingesteldheid van die spelers is ook belangrik, want daar is nie veel wat jy in dié stadium van die seisoen op die oefenveld kan verander nie,” het Bashford gesê.
Die Sharks en die Stormers is albei in die onbenydenswaardige posisie dat hulle op die vooraand van hul laaste ligawedstryde geen sekerheid oor hul doen en late volgende week het nie.
Albei het ’n kans om na Australasië te reis vir ’n halfeindstryd en daar is selfs ook die buitekans dat albei spanne Sondagaand in dieselfde vliegtuig oor die Indiese Oseaan gaan vlieg. Dit is egter onwaarskynlik.
Om op Saterdag se wedstryd te fokus, maar ook volgende week se reisplan in gedagte te hou, is dus nie maklik nie.
“As ons deurdring, is die plan om so vinnig moontlik in Sydney uit te kom,” het Bashford gesê.
“Die probleem is dat die Stormers en die Chiefs straks ook dieselfde vlug sal wil haal,” het Bashford gesê.
Daar heers steeds kommer oor die fiksheid van die Sharks se kaptein en slot, Johann Muller, en die senter Frans Steyn.
Muller se kuitspier-besering het hom daarvan weerhou om teen die Cheetahs uit te draf.
Die slegte nuus vir die Sharks is dat die rib-besering wat Steyn teen die Cheetahs opgedoen het, nie vinnig genoeg herstel nie.
Muir sal dié sterspeler die hele week gun om van sy besering te herstel.
“Ons sal hom selfs tot ná die aankondiging van die span tyd gun om van die besering te herstel,” het Dick Muir, die afrigter, gesê.
Net om dit nie te laat klink of Steyn se deelname gewaarborg is nie, het Muir bygevoeg: “Ons kan hom natuurlik ook van die plaasvervangerbank gebruik.
“Ek gee hom ’n 60/40-kans om te speel,” het hy gesê.
|
| Kontak
ons | Navrae
| Teken in
op ons nuusbrief | Vrae
oor registrasie | Adverteer
| gebruikersooreenkoms
| |