|
|||||||||
|
|
Stuur enige kommentaar, stories, foto's of wenke aan web@dieburger.com | ||||||||
![]() ’n Klompie Stormers hou sake gister met ’n frons op die gesig dop by ’n oefening in Durbanville. Van links is Ricky Januarie, Gcobani Bobo, Pieter Myburgh, Andries Bekker, Jean de Villiers en Ollie le RouxFoto: FRANCOIS NEL
Super14
Eloff gaan hom nie aan Rassie steur
13/05/2008 10:58:10 AM - (SA)
JOHANNESBURG. – Die Lions gaan nie toelaat dat die afrigter van die Stormers, Rassie Erasmus, met hul koppe smokkel voor Saterdag se deurslaggewende Super14-rugbywedstryd op Ellispark nie.
Die Stormers moet ’n voltal van vyf punte verdien om in die wedloop om die halfeindronde te bly.
Erasmus is ’n afrigter wat daarvan hou om speletjies met sy teenstanders te speel.
Sy eweknie by die Lions, Eugene Eloff, het gister gesê hy gaan hom nie vandeesweek steur aan wat Erasmus oor Saterdag se wedstryd te sê het nie.
“Ek weet nie of hy vandeesweek speletjies gaan speel of nie. Ons gaan ons egter nie steur aan enigiets wat gesê word nie,” het Eloff beslis gesê.
“Ek gaan ook nie hierdie week koerante lees nie. Al waarop ek fokus, is wat ons moet doen om die wedstryd te wen.
“Die Stormers sal goed voorbereid Ellispark toe kom.
“Hulle is ’n goeie span. Ons het egter die skietgoed om hulle te klop as ons afrond, besit behou en goed verdedig,” het Eloff bygevoeg.
Die Lions begin vandag met hul voorbereiding.
Cobus Grobbelaar en sy trop het gister ’n welverdiende rusdag gehad ná verlede Saterdag se fisieke wedstryd teen die Chiefs op Ellispark.
Dié Lions het dié wedstryd met 33-27 gewen.
’n Hele paar spelers het dié dag benut om van hul stampe en stote te herstel. Die welkome rusdag was soos musiek in die ore van veral die lostrio – Willem Alberts (agtsteman) en die flanke, Joe van Niekerk en Grobbelaar.
Alberts en Van Niekerk was baie fisiek teen die Chiefs en Grobbelaar moes ’n paar steke aan sy linkerooglid kry.
Dié drie sal Saterdag saam met die vaste vyf ’n groot rol in die Lions se aanslag speel.
Eloff en sy afrigtingspan, Leon Boshoff (voorspelers) en Wimpie Vermeulen (agterspelers), wys hul 22-tal môre aan.
Tensy daar iets dramaties gebeur, sal dieselfde 22-tal wat in die oorwinning oor die Chiefs betrokke was, in die kragmeting met die Stormers in aksie wees.
“Ek dink nie daar sal baie veranderings wees nie, want ’n mens verander nie sommer aan ’n wenkombinasie nie,” het Eloff gesê toe hy oor sy span vir Saterdag gepols is. Hy en Vermeuelen sal diep moet dink oor wie van Chris Jonck en Jano Vermaak die skrumskakel in die beginspan sal wees.
Jonck is die oggend voor die wedstryd teen die Chiefs na die beginspan bevorder omdat Vermaak weens griep aan die span onttrek is. Vermaak is weer reg.
Jonck het sy kans teen die Chiefs aangegryp en uitstekende skrumskakelspel gelewer.
Eloff en Vermeulen moet nou besluit of hy teen die Stormers weer in die beginspan moet wees met Vermaak op die bank of anders om.
Een van die Stormers se sterk punte is hul lynstaanspel en dis nog onseker wie die Lions se slotpaar gaan wees.
Gerhard Mostert het teen die Chiefs uithaler-lynstaanspel gelewer.
En toe Franco van der Merwe later as plaasvervanger-slot in die grieperige Dewald Senekal se plek opgestuur is, is die Chiefs se lynstaanspel verder in chaos gedompel.
Die waarskynlike 22-tal van die Lions is: Earl Rose, Louis Ludik, Jaque Fourie, Walter Venter, Ryno Benjamin, Jaco van Schalkwyk, Chris Jonck, Willem Alberts, Joe van Niekerk, Cobus Grobbelaar (k), Gerhard Mostert, Dewald Senekal, JC Janse van Rensburg, Willie Wepener, Heinke van der Merwe. PLAASVERVANGERS: Ethienne Reynecke, Ross Geldenhuys, Franco van der Merwe, Wilhelm Koch, Jano Vermaak, Jannie Boshoff, Dusty Noble.
|
| Kontak
ons | Navrae
| Teken in
op ons nuusbrief | Vrae
oor registrasie | Adverteer
| gebruikersooreenkoms
| |