|
|||||||||
|
|
Stuur enige kommentaar, stories, foto's of wenke aan web@dieburger.com | ||||||||
Chris Latham Steve Holland, Reuters
Super14
Latham se toetsloopbaan voortydig beëindig
13/05/2008 10:58:13 AM - (SA)
SYDNEY. – Australië se heelagter Chris Latham het gister toegegee dat ’n ernstige skouerbesering sy internasionale rugbyloopbaan kan kortknip.
Die Reds se Latham moet ’n operasie ondergaan en sal lank langs die kantlyn wees nadat hy in Saterdag se Super14-kragmeting met die Crusaders in Brisbane dié besering opgedoen het.
Volgens dié 32-jarige Aussie is die kanse baie skraal dat hy betyds sal herstel om ’n toets vir die Wallabies te speel voordat hy drie seisoene lank in Worcester in Engeland gaan speel.
“Ek kan dalk terugkeer, maar dit sal net vir een toets wees en dit is nie die moeite werd nie,” het Latham gesê.
“Hulle (die nasionale keurders) moet vorentoe beweeg en daar sal vanselfsprekend ander spelers wees wat in my plek sal speel. Ek hoop regtig hulle kan welslae behaal en hul peil dan handhaaf.”
Volgens Latham was hy “die josie in” oor die besering, omdat dit hom waarskynlik van die kans beroof het om 100 Super-wedstryde vir die Reds te speel.
Hy het reeds 99 keer vir dié span gespeel.
“Ek het nie eintlik rede om kwaad te wees nie. Ek het meer as 100 wedstryde vir Queensland gespeel en ook meer as 70 toetse vir Australië.
“Ek is baie bevoorreg. Ek is nie te na gekom nie, maar is wel ’n bietjie teleurgesteld dat dit só moes eindig,” het Latham gesê.
Dié Aussie sien daarna uit om sy loopbaan in Engeland af te sluit.
“My loopbaan is nog nie verby nie. My loopbaan in Engeland is iets om na uit te sien.”
|
| Kontak
ons | Navrae
| Teken in
op ons nuusbrief | Vrae
oor registrasie | Adverteer
| gebruikersooreenkoms
| |