|
|||||||||
|
|
Stuur enige kommentaar, stories, foto's of wenke aan web@dieburger.com | ||||||||
Super14
Sharks verlig dat hulle ná Stormers speel
13/05/2008 10:58:53 AM - (SA)
JOHANNESBURG. – Wanneer die Sharks Saterdag teen die Chiefs se rugbyspan in Durban in die laaste Super14-ligawedstryd van 2008 uitdraf, gaan hulle presies weet wat hulle te doen staan om ’n plek in die halfeindstryd te verseker.
Hiervoor is die Durbaniete dankbaar, want twee jaar gelede het hulle een voet in die halfeindstryd gehad voordat die Bulls se oorwinning met meer as 32 punte oor die Stormers hulle dié reg ontsê het.
“In dié opsig is ons bly dat ons darem gaan weet wat ons moet doen. Ons moet dus wag om te sien wat die Stormers doen en dan seker maak dat ons met ’n beter vertoning vorendag kom,” het die Sharks se hulpafrigter, Grant Bashford, gister gesê.
Die Stormers en die Sharks is onderskeidelik vierde en vyfde op die punteleer en al het hulle albei 37 ligapunte, is die Kaapse span se punteverskil nege beter.
Die Sharks sal dus weer met ’n aanvallende ingesteldheid op die veld moet draf en dit is om dié rede dat hulle styf gaan duim vashou dat die veelsydige Frans Steyn sy kant kan bring.
Steyn het ribbes teen die Cheetahs beseer en sal dalk nie kan speel nie. “In dié stadium het Frans ’n 50/50-kans om te speel. Dit is eintlik ’n netelige saak omdat ons dalk met hom ’n kans kan waag, maar dan vererger hy dalk die besering en kan dan nie vir ’n moontlike halfeindstryd oorweeg word nie,” het Bashford gesê.
Die uitmergelende aard van die toernooi begin ook elders in die span sy tol eis. “Daar is verskeie spelers wat maar van stampe en stote moet herstel. BJ Botha, Johann Muller, Steven Sykes, Johan Ackermann en AJ Venter kon vandag (gister) slegs aan ligte oefeninge deelneem,” het Bashford gesê.
Wat beserings betref, is die Sharks egter gelukkig wanneer hulle met die Chiefs vergelyk word.
Voor hulle op toer gegaan het, was die Chiefs goed geplaas om ’n plek in die halfeindstryd los te speel. ’n Rits beserings en nederlae teen die Western Force in Perth en die Lions in Johannesburg het egter hul kaarte lelik deurmekaar gekrap.
Hulle is byvoorbeeld drie stutte kwyt.
“Ons het ’n nagmerrie oor die laaste 24 uur beleef en ons probeer dit nog verwerk,” het die Chiefs se afrigter, Ian Foster, aan sy span se webwerf oor hul jongste terugslae gesê.
David Bason, Simms Davison, Simon Lemalu en Richard Kahui is almal huis toe gestuur nadat hulle beserings opgedoen het. Boonop bestaan daar twyfel oor die fiksheid van die agtsteman Sione Lauaki (dyspier), die losskakel Stephen Donald (nek), die vleuel Sitiveni Sivivatu (enkel) en Tom Willis (sy).
Om dinge te vererger is die stut Ben May geskors nadat hy Joe van Niekerk in die wedstryd teen die Lions in die gesig getrap het.
|
| Kontak
ons | Navrae
| Teken in
op ons nuusbrief | Vrae
oor registrasie | Adverteer
| gebruikersooreenkoms
| |