|
|||||||||||
|
Die Waratahs se 18-jarige senter, Rob Horne, het sy bes probeer, maar kon nie die Stormers se kragtige Fidjiaan Sireli Naqelevuki keer om sy drie in die eerste helfte van Saterdag se Super14-wedstryd op Nuweland te druk nie.Foto: GARTH STEAD
Super14
Skrums bly kopseer vir Stormers
12/05/2008 01:36:50 PM - (SA)
KAAPSTAD. – Die Stormers se skrum is steeds ’n bron van groot kommer met ’n moontlike halfeindstryd in die Super14-rugbyreeks wat wink.
Saterdag is die Stormers se besit twee keer agtereenvolgens in die eerste helfte in die skrums omgekeer, in die gelykopstryd van 13-13 teen die Waratahs op Nuweland.
Dít volg op die vorige week se gesukkel teen die Brumbies.
Rassie Erasmus, afrigter van die Stormers, het luidens berigte weke gelede al voelers na die voormalige Springbokstut Ollie le Roux uitgesteek, en hopelik word hy vandeesweek nader getrek.
“Ek dink die Waratahs het goed geskrum,” het Erasmus diplomaties ná Saterdag se wedstryd gesê.
“Verlede week het ek gesê ons het gesukkel in die skrums (teen die Brumbies), maar ná ek die video bestudeer het, gesien ons was in slegs twee uit die 12 skrums onder druk.
“My eerste reaksie sal wees dat ons nie die skrums oorheers het nie, maar ek wil die video kyk en sien hoeveel foute gemaak is.”
Die Stormers se probleme in die skrums het begin met die ernstige skouerbesering wat die loskopstut JD Moller vroeër hierdie seisoen opgetel het. Brian Mujati het Saterdag weer uit posisie op loskopstut begin, met Brock Harris op vaskop.
Voor Moller se besering het Mujati geskitter op vaskop. Deur hom op loskop te kies, is die Stormers besig om een van hul sterk punte te neutraliseer.
Harris het blykbaar ’n ligte skouerbesering teen die Waratahs opgedoen en hopelik maak dit nou die deur vir Le Roux oop.
Indien Erasmus nie nou vir Le Roux wil kies nie, kan hy vir Schalk Ferreira, Wicus Blaauw of Janro van Niekerk op loskop oorweeg. Daar moet ’n verandering kom om die gesukkel te stop, en om jou beste vaskop uit posisie te kies, is nie die oplossing nie.
Die vleuel Wylie Human het ook sy ribbes beseer, maar soos in die geval van Harris, lyk dit nie ernstig nie.
Die Stormers was gelukkig dat hulle nie Saterdag verloor het nie. Die Aussies het meeste van die speelwerk gedoen.
“As jy (positiewe) rugby in nat toestande probeer speel, verloor jy gewoonlik. Die plan was om te verdedig, en dit het byna perfek gewerk,” het Erasmus verduidelik.
Die Stormers het ná Human se drie vroeg in die tweede helfte en die plaasvervanger-losskakel, Tony Brown, se strafdoel in die 64ste minuut met 13-6 voorgeloop.
Hulle was in ’n posisie om te wen, maar die Waratahs het die balbesit gemonopoliseer en ’n flater deur Brown het uiteindelik op die gelykmakende drie uitgeloop.
Die Waratahs se losskakel, Kurtley Beale, kon egter nie met twee skepdoelpogings in die laaste vyf minute slaag nie.
Puntemakers:
STORMERS 13 (5): – Drieë: Sireli Naqelevuki, Wylie Human. Strafdoel: Tony Brown.
WARATAHS 13 (6): – Drie: Lote Tuqiri. Doelskop: Kurtley Beale. Strafdoele: Beale (2).
|
|
| Kontak
ons | Navrae
| Teken in
op ons nuusbrief | Vrae
oor registrasie | Adverteer
| gebruikersooreenkoms
| |