|
|||||||||
|
|
Stuur enige kommentaar, stories, foto's of wenke aan web@dieburger.com | ||||||||
Super14
Sharks swoeg vir sege
12/05/2008 01:36:49 PM - (SA)
DURBAN. – Die eindtelling van 33-14 skep die indruk dat die Sharks soveel beter as die Cheetahs in Saterdag se Super14-rugbywedstryd was.
Hoewel dit ’n groot deel van dié kragmeting die geval was, het die tuisspan dit soms bitter moeilik gevind om die besoekers hiervan te oortuig.
Vir die Sharks was ’n oorwinning en ’n bonuspunt ononderhandelbaar. Hoewel hulle in ’n groot mate oorheers het, het die tuisspan sy ondersteuners se geduld weer tot die uiterste beproef deur eers in die laaste minuut ’n bonuspunt-drie te druk om die Cheetahs te knak.
Die Sharks se Super14-aspirasies is ná hul sege van bedenklik tot kritiek verhef en daar wag ’n ewe senutergende ervaring Saterdag teen die Chiefs.
Die Sharks het teen die Cheetahs met groot geesdrif begin. Hoewel hulle groot ondernemingsgees aan die dag gelê het, het hul soeke na vier drieë hier en daar op ’n dwaalspoor beland.
Die Sharks het die eerste helfte heeltemal oorheers, maar ’n gesukkel wat hulle byna lamgelê het, is deur hulself veroorsaak.
Met ’n oorvloed besit het die tuisspan die Cheetahs se verdediging beproef, maar hul hanteerwerk was nie altyd na wens nie. By verskeie geleenthede het die Sharks die voordeellyn oorgesteek net om die bal te verloor of met ’n ondeurdagte aangee die bal aan die besoekers te besorg.
’n Drie deur die speler van die wedstryd, Jacques Botes, het vroeg die indruk geskep dat die Sharks met die Cheetahs sou mors, maar ondanks ’n oorvloed aan besit, was hul beloning bra min.
Die Sharks se pak was behoorlik op die voorvoet.
Albert van den Berg, Tendai Mtawarira, Bismarck du Plessis en Ryan Kankowski het veral met hul dryfspel beïndruk en Ruan Pienaar en Frans Steyn het agterlangs die besoekers verder aan die kaak gestel.
Dat die Sharks met rustyd net met sewe punte voor was, getuig van hul onvermoë om die gewonde Cheetahs vroeër die doodskoot te gee.
Die Cheetahs se verdediging, met Juan Smith en Heinrich Brussouw aan die voorpunt, verdien ’n pluimpie.
Daar skort min met die Cheetahs se instinkte op die aanval en die Sharks het net voor rustyd ’n duur prys betaal toe die Cheetah-heelagter, Hennie Daniller, ’n teenaanval begin het wat op ’n drie vir Jongi Nokwe uitgeloop het.
Nadat Daniller verby die eerste twee verdedigers gebars het, was dit ’n geval van wie sou afrond.
Met meer besit in die tweede helfte het die Cheetahs ’n drie deur Meyer Bosman as beloning gehad.
Puntemakers: SHARKS – 33 (14). Drieë: Jacques Botes (3,) Odwa Ndungane (2.) Doelskoppe: Rory Kockott (4); CHEETAHS 14 (7) – Drieë: Jongi Nokwe, Meyer Bosman. Doelskoppe: Conrad Barnard, Tewis de Bruyn.
|
| Kontak
ons | Navrae
| Teken in
op ons nuusbrief | Vrae
oor registrasie | Adverteer
| gebruikersooreenkoms
| |