|
|||||||||
|
|
Stuur enige kommentaar, stories, foto's of wenke aan web@dieburger.com | ||||||||
![]() Jacques Botes (links) en Ruan Pienaar van die Sharks vat Duanne Vermeulen van die Cheetahs vas in hul wedstryd in DurbanFOTO: Duif de Toit, GALLO IMAGS
Super14
Tobie straks in Falie se plek
12/05/2008 11:49:21 AM - (SA)
BLOEMFONTEIN. – Falie Oelschig se wipwaentjierit in 2008 se Super14-reeks het straks tot stilstand gekom aangesien hy waarskynlik nie in die Cheetahs se laaste wedstryd van die reeks sal kan speel nie.
Oelschig het ’n kniebesering in Saterdag se nederlaag van 14-33 teen die Sharks opgedoen en daar behoort op die opwindende Tobie Botes van Griekwas se knoppie gedruk word om Oelschig vandeesweek in die 22-tal te vervang. Tewis de Bruyn of Botes behoort Oelschig se plek in die beginspan vir Saterdag se kragmeting om 15:00 teen die Bulls vol te staan.
Dié verandering op skrumskakel kan een van minstens twee veranderinge aan die 22-tal wees wat die Super 14-kampioen gaan pak.
Die plaasvervanger-haker, Richardt Strauss, kan volgens Naka Drotské, Cheetah-breier, die week ’n klein knieoperasie ondergaan en sowat vier of vyf weke lank op die krukkelys wees.
Die derde haker in die Cheetahs se vergrote oefengroep is die Griekwa-kaptein, Hans van Dyk. Van Dyk behoort Adriaan Strauss se adjudant teen die Bulle te wees.
Daarbenewens het Drotské gister gesê daar kan “een of twee veranderinge agterlangs wees” vir die Bulls-stryd.
Sommige Cheetah-agterspelers het Saterdag egter weer met tye kleigetrap en die insluiting van spelers soos Bevin Fortuin (heelagter) en Hendrik Meyer (senter) kan agterlangs dalk ’n verbetering wees.
Die Vrystaatse Vodacombeker-span se deelname aan dié reeks se eindstryd Vrydagaand op Loftus Versfeld maak dit moeilik om van dié spelers na die Cheetah-span nader te trek indien Drotské-hulle wou.
Botes is wel ’n speler wat ’n kans verdien om te wys wat hy kan doen.
Poublou-agterspelers soos Sarel Pretorius (skrumskakel), Barry Geel, Lafras Uys (senters), Bjorn Basson (vleuel) of Riaan Viljoen (heelagter) sou ook dalk in dié tyd van nood ’n verbetering in een of twee posisies kon wees.
|
| Kontak
ons | Navrae
| Teken in
op ons nuusbrief | Vrae
oor registrasie | Adverteer
| gebruikersooreenkoms
| |